Die Pumas-vlakkiekrieketklub se A-span het Saterdag vir Orchards op die krieketveld geklop.‘Worcester Standard’ het verlede week ’n foto geplaas en in die onderskrif na die Pumas-vlakkiekrieketspan verwys. Dit was ongelukkig die verkeerde foto. Hier bo is die korrekte foto.


Die A-span van Orchards-vlakkiekrieket­klub van De Doorns kon Saterdag (11 Februarie) nie die mas teen Worcester se Pumas opkom nie. Die Pumas wen oortuigend met 31 lopies.

Orchards het die loot gewen en besluit om eerste te boul.

Die Pumas se aanvangskolwers het hul kolfbeurt stadig begin, maar tot die vermaak van die toeskouers het hulle ná die eerste klompie beurte hul tempo begin versnel.

Maar hulle verloor toe ook paaltjies en die Pumas is net toegelaat om 122 lopies in die toegelate 15 boulbeurte aan te teken.

Orchards gaan in om te kolf en slegs in die tweede boulbeurt kantel hul eerste paaltjie.

Hierna kon Orchards net nie spoed optel nie en hulle verloor gereeld paaltjies.

Orchards het toe wel ’n tweede asem gekry, maar die drie goeie boulbeurte wat die span gekry het, was nie genoeg nie en hulle is beperk tot slegs 91 lopies.

Die Pumas wen die wedstryd met 31 lopies, met Clython Oliphant van die Pumas wat aangewys is as die beste krieketspeler van die wedstryd toe hy 63 lopies van 41 balle aangeteken het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article