’nBekende prokureur van Worcester is Dinsdagoggend op die N1 in ’n botsing teen ’n vragmotor dood.
Volgens inligting het die botsing voor 08:00 gebeur. ’n Bron met inligting oor die voorval sê ’n ambulansspan het per toeval op die botsing afgekom en die res van die nooddienste en polisie daarvan in kennis gestel.
Die botsing het net ná die vulstasies buite Worcester gebeur.
“Die polisie is eers om 08:40 van die ongeluk in kennis gestel. Met hul aankoms op die toneel was nooddienswerkers reeds besig om na die vragmotorbestuurder en sy passasier om te sien. Die bestuurder van die motor, ’n wit Hyundai sportnutsvoertuig, is op die toneel dood,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.
Die vragmotorbestuurder het glo net ligte beserings opgedoen terwyl sy passasier nie beseer is nie.
Die vragmotor, wat ’n vrag glasprodukte vervoer het, het in die rigting van Worcester gery en die motor in die rigting van Rawsonville.
“Volgens ooggetuies het die vragmotor teen die gewone spoed in sy baan na Worcester gery toe die bestuurder van die motorvoertuig skielik voor die aankomende verkeer ingedraai en direk teen die vragmotor gebots het,” verduidelik Jacobs.
Standard het uitgereik na die oorledene se regsfirma, Johan Botes Prokureurs wat dié boodskap gestuur het: “Johan Botes, seker meer bekend aan sy kollegas en kliënte as Boates. Waar begin ’n mens? Op 2 Julie 2012 begin ons saam jou droompad te loop – om jou eie firma te begin. Saam is ons deur goeie en slegte tye, maar het mekaar deur dik en dun bygestaan. Johan sal altyd onthou word as ’n man van min woorde, stil, hardwerkend en absoluut toegewyd aan sy kliënte. Johan het geleef vir sy kinders en sy werk. Hy was legendaries in sy eie tyd. Sy omgee vir sy mense en sy liefde vir sy familie sal altyd voortleef. Sy skielike heengaan was ’n groot skok en word deur sy familie, kliënte, kollegas en personeel betreur. Ons neem met groot hartseer en mooi herinneringe afskeid van ’n kollega en vriend. Dankie dat ons deel van jou span kon wees. Ons gaan jou baie mis. Tot ons weer ontmoet.”
Padgebruikers op die N1 moes Dinsdag feitlik heeldag gebruik maak van die ou N1 as ’n alternatiewe roete. Dié deel van die N1 is weer ná 17:00 vir verkeer oopgestel nadat die wrakke en glas van die pad verwyder is.
Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.





