In ’n deurslaggewende wedstryd in Groep B tussen Pro Eagles en Young Stars het Pro Eagles verbete teruggeveg om Young Stars met ’n stewige 24 lopies te klop.
Die wedstryd is op Nuweland in Roodewal gespeel en het aan als voldoen vir ’n stryd tot die bitter einde.
Op Giantspark het View Giants punte gekry nadat Young Titans nie vir hul wedstryd opgedaag het nie, terwyl Rising Stars teen Orchard op laasgenoemde se tuisveld aan die wenkant was.
Groep A het oorwinnings vir Pumas teen Leopards op Dynamopark opgelewer terwyl Clovers vs View Pro se uitslag teen druktyd nog nie beskikbaar was nie. Die twee spanne jaag albei die eerste plek nadat veral View Pros in dié toernooi indrukwekkend vertoon het.
Quickies vs Hartwig Lions kon nie plaasvind nie weens skeidsregters wat nie opgedaag het nie asook albei klubs wat te min spelers teen 13:30 gehad het om die wedstryd te begin.
Reël 13 van die toernooi bepaal dat sewe spelers ’n wedstryd kan begin, maar albei klubs het nie aan die reël voldoen nie en het slegs vyf spelers aan elke kant beskikbaar gehad.
Teen 13:48, toe die skeidsregters uiteindelik opdaag, kon die wedstryd steeds nie voortgaan nie en hoewel Quickies van hul spelers teen 14:00 bygekry het, het Lions se spelers gevoel hulle gaan nie speel nie omdat te min spelers teenwoordig was.
Die wedstryd is toe deur die skeidsregters aan Quickies toegeken.
Op die oomblik verloop die toernooi nog goed met Clovers, View Pro, Pumas en Zazon, wat verbete om die gesogte eerste plek veg, terwyl Giants, Rising Stars en Pro Eagles asook Very Dangerous dit in Groep B uitspook om te kyk wie eerste gaan eindig om in die eindstryd op 22 Desember te speel.
Slegs die twee eerste plekke in albei groepe sal mekaar in die eindstryd pak.
Die volgende twee naweke gaan dus deurslaggewend wees vir die klubs om hul hoop lewendig te hou.
In groep A speel Pumas teen Quickies op Ryderpark. Hartwig Lions speel op Greenvalley teen Black Leopards terwyl View Pros tuis teen Zazon speel.
Groep B se bepalings is Young Titans teen Rising Stars op Edengarden. Giants speel teen Orchard op Giantspark terwyl die Nuweland-derby tussen Young Stars en Very Dangerous om 13:30 gaan afspeel.
Klubs word gevra om hul skeidsregters vroegtydig vir wedstryde te stuur asook self betyds vir wedstryde op te daag.





