Primrose het Saterdag 21 Mei op Bolandpark se B-veld vir Sandhills RFC oortuigend 22-5 geklop.
Die eerste punte van die wedstryd is aangeteken toe Primrose ’n vryskop afgestaan het waarop Sandhills ’n tikskoppie geneem het en die doellyn aangeval het, maar Primrose se verdediging was rotsvas.
Primrose het uit hierdie beweging die bal gewen en die kantlyn opgesoek. Die bal was egter nie uit nie en Sandhills se vleuel het, nadat hy die bal gekry het, in die hoek oorgegaan vir ’n onverdoelde drie; 0-5 vir Sandhills.
Ná die afskop het Sandhills al hoe meer aangeval en Primrose se verdediging is tot die uiterste beproef. Primrose het egter omgekeerde balbesit gekry en veld-op gespeel. Dit het hulle sterk op die aanval geplaas en sy agsteman, Munir Valley, kon oor die doellyn bars vir ’n onverdoelde drie; telling 5-5. Sandhills het hierna sy kanse om twee keer punte aan te teken verbrou deur albei strafskoppe na die pale te mis.
Met die begin van die tweede helfte het Primrose die bal aangeslaan, waarop Sandhills sy agterlyn vanaf die skrum weggestuur het.
Primrose se stervleuel, Leachim Adams het egter die bal onderskep en meer as 50 m gehardloop vir ’n drie onder die pale. Marco Alberts, losskakel het seker gemaak van die doelskop; telling 12-5 vir Primrose.
Na die afskop deur Primrose wat uit was, het Sandhills die lynstaan gewen, maar die bal aangeslaan. Hiervandaan het Primrose die bal deurgeskop, wat aan stut Merv Ludick die kans gegee het om die bal toe te val vir ’n drie. Die doelskop was mis en die telling skuif aan na 17-5 vir Primrose.
Na die soveelste uitskop het Sandhills vir Primrose in sy gebied met ’n lynstaan onder druk geplaas. Primrose het egter die lynstaan gewen, sy agterlyn weggestuur, wat pragtig met die bal tot in Sandhills se 22 m-gebied gehardloop het, waar hulle by die kantlyn uitgedwing is. Primrose het egter weer die lynstaan gewen en sy senter, Ryan Haupht, het die verdediging geklop en deurgehardloop vir ’n onverdoelde drie. Dit het gesorg vir ’n bonuspunt, met die eindtelling op 22-5 vir Primrose.
Primrose se B-span wen ook 18-10.
. Eerskomende Saterdag 28 Mei reis Primrose na De Doorns waar die span vir Blue Birds die stryd gaan aansê.


