Die Primrose-rugbyklub van Worcester het die afgelope Saterdag (22 Julie) op Bolandpark vir De Doorns United, of te wel DDU, met 31 punte teenoor 7 geklop.
DDU het die koue en winderige wedstryd begin, met Primrose wat van die begin af aangeval het.
Dié span het egter die bal by hul voorspelers gehou en dit oor die doellyn gedryf. Primrose se eerste punte het gekom toe Previn Lawrence (flank), weggebreek en onder die pale gaan druk het.
Marco Alberts (heelagter) het seker gemaak met die doelskop en die telling na 7-0 gebring vir Primrose.
DDU het immers nie gou tou opgegooi nie, en met ’n vinnig verdoelde drie gespog (7-7 elk).
Daarna is die sluise oopgemaak en beide spanne het verwoed baklei, maar dit is Primrose wat die beste daarvan afkom toe Enrique Brits (senter) ’n drie gaan gedruk en Marco Alberts (heelagter) die doelskop verseker het, met die telling 14-7 vir Primrose.
Primrose het toe die wedstryd oorheers en DDU het geen antwoord vir die span se aanvalle nie.
Hulle verhoed egter Primrose om nog punte aan te ken en beperk Primrose tot 14-7 teen rustyd.
In die tweede helfte het Primrose afgeskop en onmiddellik aangeval, met Lawrence wat sy tweede drie gedruk en wat Alberts weer verdoel het, met die telling 21-7 vir Primrose.
Na nóg so ’n aanval het ’n plaasvervanger, Tyrique Williams, ook vir ’n onverdoelde drie oorgeduik, met die telling 26-7 vir Primrose.
Primrose, wat nou kookwater-rugby gespeel het, het dit vinnig opgevolg met nog ’n onverdoelde drie deur Sergio Adams (vleuel) en die telling was 31-7 vir Primrose.
Ná die drie het Primrose nog aanvalle geloods, maar DDU se verdediging was rotsvas en die eindtelling was 31-7 in Primrose se guns.


