Die Primrose-rugbyklub van Worcester het die afgelope Saterdag (6 Mei) in De Doorns lelik vasgeval toe die Orchard-rugbyklub die span onverwags met 12-7 geklop het.

’n Wedstryd wat vele hoogtepunte opgelewer het, het die skare gereeld op hul voete gehad.

Die skrumwerk was van hoë gehalte, maar om die telbord aan die rol te kry, was maar moeilik, want geen genade is getoon nie.

Die eerste punte is deur Orchard aangeteken met ’n onverdoelde drie net toe die fluitjie vir rustyd blaas. Dit het die telling op 5-0 as die rustydtelling te staan gebring.

Die laaste 40 minute was vol vuurwerke toe Orchard se damwal gebreek en Sergio Adams (plaasvervangervleuel) ’n drie vir Primrose gaan druk het.

Herschelle Matthys (ook ’n vleuel) het suksesvol verdoel en die telling na 7-5 vir Primrose opgestoot.

Verskeie beserings het daarna ingetree, maar toe die wedstryd hervat is, het Orchard onder die pale gaan druk en die doelskop suksesvol deur die pale gestuur het.

Die wedstryd het met die telling op 12-7 in Orchard se guns geëindig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article