Die Primrose-rugbyklub moes Saterdag (16 Maart) alles uithaal om ’n begeesterde Villa met 7-3 te klop.

Primrose het die wedstryd met ’n sterk wind van voor begin en sake het uit die staanspoor kop-aan-kop verloop.

Villa ontvang, maar Primrose neem die bal af en kry ’n strafskop. Primrose soek die kantlyn op vir ’n lynstaan. Villa wen die lynstaan en ook hulle soek die kantlyn op. Toe Primrose weer die bal wen, kry Villa ook ’n strafskop en lê aan pale toe, maar die poging is onsuksesvol. Ná ’n skrum wen Primrose die bal, stuur sy agterlyn weg, maar slaan aan. Villa kry die bal en ook hy stuur sy agterlyn weg. Hulle gaan vir die doellyn, maar Primrose boender hulle by die kantlyn uit.

Villa wen die lynstaan, val weer verwoed aan, maar weer onsuksesvol. Primrose volg dit op met goeie spel en vorder tot in Villa se speelgebied, maar hanteerwerk laat hom weer in die steek. Villa kry die bal en stuur sy gevaarlike agterlyn weg. Primrose moet keer vir ’n vale. Villa kry ’n strafskop en maak dié keer seker.

Die telling is nou 3-0 vir Villa.

Ná die afskop begin Primrose weer met ’n sterk wind van voor. Nou is rugby aan die orde van die dag. Ná ’n skrum vir Primrose loop sy sterk pak voorspelers weer meters ver met Villa se voorspelers, maar weer fouteer hulle. Villa bring dan verligting met ’n lynskop voordat rustyd aanbreek, met die telling steeds 3-0 vir Villa.

Villa skop vir die begin van die laaste 40 minute af. Primrose kry die bal en skop veld-op. Villa kry die bal in die hande en skop vir die kantlyn. Primrose storm dit egter af vir ’n lynstaan. Weer wen Villa die lynstaan en stuur ook weer sy agterlyn weg en vorder tot in Primrose se 22 meter-gebied. Primrose kry egter die bal in die hande, soek die kantlyn op, maar die bal is weer nie uit nie. Villa kry die bal en kom weer met daai gevaarlike aanvalle en nou moet Primrose weer vir ’n vale keer.

Primrose kry egter ’n skrum, begin ook weer met aanvalle, maar deurkomkans is min. Villa verhoed dat Primrose op die telbord kom. Primrose staar nou ’n verloor in die gesig. Dis nou Villa wat die oorhand in die wedstryd het, maar met die aansporing van Primrose se ondersteuners speel Primrose nou om lewe en dood. In die 75 minute van die wedstryd, toe dit lyk of alles verby is, kry Patrick Joseph, plaasvervanger, die bal. Hy klop die verdedigers en hardloop deur vir ’n drie. Jacquinne Jacobs, ook van die bank af, maak seker met die doelskop. Die telling is 7-3 vir Primrose. Nou is dit Primrose wat alles insit om sy telling in die laaste minute van die wedstryd te verdedig, wat hy goed doen, met die eindtelling 7-3 vir Primrose.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article