Primrose RVK moes Saterdag (11 Mei) op Bolandpark hard werk om ’n begeesterde Overhex-rugbyklub met 20 punte teenoor 15 te klop.
Die wedstryd, wat gekenmerk is deur aanvallende rugby van beide spanne, het die toeskouers kort-kort op hul voete gehad. Dit was egter Overhex wat van die begin van die wedstryd af Primrose se verdediging met sy gevaarlike aanvalle beproef het.
Hulle is beloon toe Primrose fouteer en ’n strafskop gekry het, wat hy deur die pale gejaag het om die telling 3-0 te maak. Primrose het egter vinnig teruggekom toe Moses Phillips (heelagter) en Byrn Mouplex (haker) elk ’n drie gaan druk het. Nathan Louw (losskakel) het die een drie verdoel. Teen rustyd was die telling 12-3 vir Primrose.
Ná rustyd was dit ’n ander storie toe Overhex teruggekom en die telling na 15-10 vir Primrose opgestoot het. Toe was dit rugby op sy beste. Sodra die een span ’n fout maak, het die ander een dit uitgebuit. Dit was weer Oswald Scholtz (vleuel) wat vir Primrose gaan druk het en Nathan Louw wat met ’n strafskop geslaag het. Dit het die telling na 20-10 vir Primrose gebring. Overhex het moedig teruggeveg en gaan druk om die eindtelling na 20-15 vir Primrose te bring.

