Die Primrose-rugbyspan was Saterdag (22 Oktober) in ’n verwoestende bui toe hulle die Young Warriors van Montagu 50-10 in die Top-18 van die Boland-kampioenskap gewen het.
Die tot dusver onoorwonne Young Warriors het nie ’n teenvoeter gehad vir die spel wat Primrose opgedis het nie.
Primrose is in die eerste 15 minute beloon met twee drieë deur die senter Leecham Adams en vleuel Ryan Haupht.
’n Fout deur Young Warriors het hierna boonop ’n strafskop tot gevolg gehad, wat die telling tot 13-0 vir Primrose opgestoot het. Hierna het Young Warriors ’n strafskop oorgeklits (telling 13-3).
Net voor rustyd het Adams deur die verdediging gebreek, wat die pad oopgekerf het vir die vleuel Sergio Adams om ’n drie te druk, wat die telling tot 18-3 verhoog het.
Met die aanvang van die tweede helfte het Primrose verbete aangeval en is beloon toe die span se agsteman, Marco Snyders, nóg ’n drie gaan druk het.
Haupht was suksesvol met die doelskop, wat die telling 25-3 vir Primrose gemaak het.
Ná ’n aanvaltaktiek deur Young Warriors is hy met sewe punte beloon, wat die gaping tot 15 punte gekrimp het – maar steeds 25-10 in Primrose se guns.
Primrose het die krane in die laaste paar minute van ’n spanningsvolle wedstryd behoorlik oopgedraai en die telbord uiteindelik op 50-10 laat vassteek.


