Die Primrose-rugbyklub het Saterdag (20 Augustus) teen Sandhills te staan gekom en die wedstryd 45-5 gewen, en bly sodoende op koers in die Gemeenskapskild-kompetisie.

Sandhills het reeds vroeg in die wedstryd tot binne vyf meter van Primrose se doellyn gevorder, maar soos tekenend van die begin van die wedstryd af, het hy hom teen die rotsvaste verdediging van Primrose vasgeloop.

Primrose het die bal gewen en verligting met ’n lynskop gebring, waarna die voorspelers pragtig saam gedryf het voordat die agterlyn weggestuur is en die linkervleuel, Ryan Haupht, in die hoek oorgegaan het vir ’n drie. Die doelskop was egter mis; 5-0 vir Primrose.

Kort hierna het Primrose weer tot binne Sandhills se 22 m-gebied aangeval, waar hy egter fouteer het en ’n skrum aan Sandhills toegeken is.

Primrose het egter die skrum gewen en sy gevaarlike agterlyn weggestuur met die flank Previn Lawrence wat sy lyf agterspeler gehou en onder die pale gaan druk het. Haupht het seker gemaak van die doelskop; telling 12-0 vir Primrose, wat die rustydtelling was.

Sandhills het in die tweede helfte daarin geslaag om die telbord aan die rol te kry toe Primrose in ’n agterlynbeweging aangeslaan, Sandhills dit uitgebuit en sy vleuel in die hoek gedruk het (onverdoelde drie; telling 12-5 vir Primrose).

Met die volgende afskop is Sandhills onder druk geplaas en gedwing om te skop. Die bal is deur Ryan Haupht gevang en hy het ’n briljante individuele drie gaan druk. Marco Alberts het seker gemaak van die doelskop; telling 19-5 vir Primrose.

Hierna het Primrose pragtig saamgespeel en sy heelagter, Marco Alberts, het oorgegaan vir ’n onverdoelde drie; telling 24-5 vir Primrose, wat ’n bonuspunt verdien het, maar nog was dit het einde niet. Primrose het die bal in die hand gehou en sy senter Octavier Cupido het oorgegaan en ’n drie gedruk. Alberts het seker gemaak tussen die mikke deur en die telling het na 31-5 vir Primrose gestyg.

Primrose het dit verder opgevolg met nog ’n drie toe sy regtervleuel, Leeham Adams, oorgegaan het, waarna Alberts verdoel het; telling 38-5 vir Primrose.

Alberts het hierna sy tweede drie gaan druk, wat hy self verdoel het; telling 45-5 vir Primrose, wat die eindtelling was.

Primrose se B-span het 13 punte teenoor 0 verloor.. Saterdag (27 Augustus) speel Primrose tuis teen Blue Birds op Bolandpark B by die Pool-akademie se ingang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article