Primrose-rugbyklub het Saterdag (28 Mei) seker gemaak van ’n oorwinning toe hy Blue Birds van De Doorns 29-18 in De Doorns geklop het.
Primrose het reeds vroeg in die wedstryd gewys hy wil die bal lug gee.
Blue Birds se eerste drie het gekom toe hy ’n fout van Primrose uitgebuit en sy senter ’n onverdoelde drie in die hoek gedruk het. Telling: 5-0 vir Blue Birds.
Primrose het egter nie lank vir die gelykmaker gewag nie toe hy ná die inskop op Blue Birds se lynskop afgestorm en sy senter Ryan Haupht doellyn toe genael het vir sy onverdoelde drie. Telling: 5-5.
Ná die soveelste inskop het Primrose die bal gekry en die kantlyn opgesoek. Met die spel wat nou momentum begin toon het danksy ’n goeie dryfbeweging van Primrose, het Blue Birds egter die beste daarvan afgekom toe hy ’n strafskop gekry en pale toe aangelê het. Met die suksesvolle skop deurgeklits, was die telling 8-5 vir Blue Birds.
Ná die inskop het Blue Birds gefouteer – die skrumskakel, Marco Alberts, het ’n lugskoppie gegee wat die vleuel Leachim Adams opgevolg en gaan druk het.
Die losskakel, Marchelino Morris, het seker gemaak van die doelskop. Telling: 8-12.
Ná die inskop het Primrose se Ryan Haupht ’n tweede keer agter die pale gaan kuier, maar die doelskop was mis. Die telling: 8-17 vir Primrose. Hierna het Primrose vryelik met die bal gehardloop en nog ’n drie het gevolg toe Leachim Adams sy tweede drie gedruk het. Die doelskop was weer mis en die telling 8-22.
Blue Birds het egter nie gaan lê nie en verbete aangeval. Hy is beloon met ’n strafskop; 11-22 vir Primrose was ook die rustydtelling.
Ná die afskop vir die tweede helfte het Primrose vinnig sy agterlyn weggestuur met sy stervleuel, Leachim Adams, wat oorgegaan het vir sy derde drie.
Morris het seker gemaak met die doelskop. Telling: 11-29. Birds het hierna verhoed dat Primrose verder punte aanteken en met ’n sterk eindpoging toegesien dat hy ’n laaste verdoelde drie onder die pale gaan druk. Telling: 18-29.
Dit was die eindtelling.. Eerskomende Saterdag (4 Junie) speel Primrose teen Alberts. Die kragmeting beloof om ’n baie goeie derbywedstryd op te lewer.

