Die Primrose-rugbyklub het vir die begin van die 2022-rugbyseisoen na Rawsonville gereis waar hy die Klipdrif-rugbyklub die afgelope Saterdag die stryd aangesê het.
Die ruimte om die veld het vinnig vol geraak namate talle toeskouers, wat daarna uitgesien het om weer rugby te aanskou en te geniet, opgedaag het.
Primrose het eerste afgeskop met ’n windjie wat in sy blaaie waai. Klipdrif het die bal ontvang en veld-op begin hardloop, maar toe hy ’n hanteerfout maak, het Primrose dit uitgebuit. Sy vleuel Leachim Adams het die bal gekry, deur die verdediging gesny en sy drie gaan druk. Die losskakel, Rushdi Levendal, het seker gemaak van die doelskop (telling: 7-0 vir Primrose).
Primrose het sommer vroeg in die wedstryd al sy stempel afgedruk en die jong talentvolle spelers het gewys waartoe hulle in staat is, maar met hul oorgretigheid is hulle gestraf. Klipdrif het die strafskop gekry en aangelê pale toe – sukses (telling 7-3). Die wedstryd het begin momentum kry en die bal is lekker rondgegooi. Ná die afskop het Klipdrif weer die bal verloor, waarna Primrose dit bemeester en verwoed begin aanval het, maar Klipdrif se verdediging was rotsvas.
’n Skrum is beveel toe Primrose weer ’n fout maak, maar met die losgemaal het Primrose die bal gekry en sy agterlyn weggestuur. Sy senter Dewayne Muggels het die bal gekry en ’n rolskoppie gewaag. Adams is agterna en het sy tweede drie gedruk, maar die doelskop was mis (telling: 12-3 vir Primrose) en die spelers het gou ’n blaaskans vir water gekry.
Ná rustyd het Klipdrif afgeskop. Toe Primrose die bal ontvang, het Klipdrif hulle teruggedryf en in die 22 m-gebied gehou. Klipdrif het die bal gekry, met krag oor die doellyn gestorm en sy eerste drie gedruk. Die doelskop was egter mis (telling: 12-8).
Die manne het geen genade betoon nie en uitstekende rugby het gevolg. Die een ná die ander aanval is deur albei spanne van stapel gestuur, en Klipdrif het weer ’n strafskop gekry toe Primrose oortree, maar mis geskop. Klipdrif het die druk ná die inskop volgehou en sy voorspelers het weer pragtig saamgedryf en nog ’n drie gedruk (doelskop weer mis; telling: 13-12 in Klipdrif se guns teen rustyd).
Met die begin van die laaste 40 minute het Klipdrif afgeskop met die wind wat sterker agter hom begin waai het. Klipdrif het dit mooi benut en Primrose telkemale teruggejaag. Klipdrif het weer ’n skrum buite Primrose se 22 m-gebied gekry en sy losskakel het die bal met ’n skepskop deur die pale gejaag (telling: 16-12 vir Klipdrif). Primrose het die soveelste keer afgeskop en alles probeer om terug in die wedstryd te kom, maar oorgretigheid en te veel foute het hom sy kanse laat verbeur om nog punte te kry.
Klipdrif het dit uitgebuit en met die horde toeskouers agter hom aanval op aanval van stapel gestuur en gebiedsvoordeel geniet, maar Primrose het nie gaan lê nie. Toe Klipdrif weer die bal kry en sy agterlyn wegstuur, het Adams die bal onderskep en veld-op gehardloop, maar die ondersteuning het ontbreek en nog ’n kans om punte aan te teken was daarmee heen. Al twee spanne het in die laaste minute gespook om die wedstryd te beklink, en Klipdrif het die beste daarvan afgekom en sy volgende drie gedruk (doelskop weer mis; telling 21-12 in Klipdrif se guns).
Primrose het egter ander idees gehad en teruggeveg en die bal van ’n lynstaan af gekry, dwars oor die veld gespeel en sy gevaarlike vleuel Adams het weer die bal van sy sentermaat Claudio Matolla af gekry, wat deur ’n gaping gesny het, en Adams het nog ’n pragdrie gedruk. Die maklike doelskop is egter weer verbrou (telling 21-17 in Klipdrif se guns). Primrose het die krane oopgedraai vir die doodskoot, maar die skeidsregter het die laaste sê gehad en die eindfluitjie geblaas.
Die eindtelling was Klipdrif 21 en Primrose 17.
Primrose se B-span was ook onsuksesvol en het 12-5 verloor.. Saterdag (12 Februarie) speel Primrose tuis op Esselenpark-stadion teen Nuy-rugbyklub. Toegang beloop R20 vir volwassenes en R10 vir motors.


