Primrose moes Saterdag (10 Augustus) alles uithaal om ’n begeesterde Overhex-span op Overhex se tuisveld naelskraaps met 19 punte teenoor 17 te klop.

Met ’n redelike sterk wind skop Primrose af. Overhex fouteer en ’n skrum word beveel. Overhex val verwoed aan, maar Primrose neem die bal af en nou val Primrose aan. Hy vorder tot in die 22-m-gebied. Sy voorspelers speel pragtig saam, en sy nr. 8, Thorick Pike, gaan druk. Jowin Nel (losskakel) maak seker met die doelskop. Die telling is 7-0 vir Primrose.

Ná die inskop val Primrose weer aan. Hy gebruik die wind mooi en plaas hom telkens op die aanval,maar die sterk wind maak die hanteerwerk moeilik.

Overhex kry egter die bal in hande, klop Primrose se verdediging en gaan druk ’n onverdoelde drie. Die telling is 7-5 vir Primrose.

Net daarna, teen die verwagting, gaan druk Overhex weer. Die doelskop is egter mis. Die telling is 10-7 vir Overhex, dus ook die rustydtelling.

Overhex begin die tweede helfte en met vars bene vanaf die bank val Primrose weer aan. Hy stuur sy agterlyn weg en Marco Alberts gaan druk. Jowin maak weer seker met die doelskop. Die telling is 14-7 vir Primrose.

Primrose veg nog voort, maar weer eens laat hanteerwerk hom in die steek. Overhex buit dit uit en gaan druk sy volgende verdoelde drie. Die telling is 17-14 vir Overhex.

Primrose besef dat die uurglas uitloop en gee nou alles wat hy het. Sy voorspelers stuur die een na die ander lopie van stapel en Thorick Pike gaan druk sy tweede onverdoelde drie.

Die eindtelling is 19-17 vir Primrose.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article