Primrose-rugbyklub se A-span het Saterdag op Bolandpark weer hul staal gewys, toe hulle Breërivier Villagers met 18-13 geklop het.
Met die afskop val Villa’s onmiddellik aan en betrap Primrose op die verkeerde voet en Villa’s gaan druk in die eerste 30 sekondes ’n drie wat verdoel word om ’n openingstelling van 7-0 op die telbord te sit.
Primrose besef toe dat Villa’s gekom het om te wen en hulle begin aanval.
Primrose wen ’n mooi lynstaan en die span se losskakel, Marco Alberts, kry die bal en hardloop vir sy pragdrie.
Sy eie doelskop is egter mis en die telling is 7-5 vir Villa.
Villa’s gaan lê immers nie, en met die bal in hand is dit ’n moeilike span om te keer. Toe Primrose oortree, benut Villa’s die kans en die skop is suksesvol, wat die telling tot 10-5 in Villa’s se guns bring.
Met Primrose se afskop maak Villa’s egter ’n fout en Primrose dribbel die bal tot byna onder Villa se pale, maar Villa se verdediging is rotsvas.
Intussen is daar ’n ernstige besering by Villa’s en die spel word vir ’n paar minute gestop.
Ná hervatting kry Primrose die bal in die hande en met sy voorspelers wat pragtig dryf, gaan hul slot, Johaine Fransman, oor vir ’n drie, wat egter onverdoel is om die telling 10 elk te bring met halftyd.
In die tweede helfte val Primrose pragtig aan, maar weer eens maak die span onnodige foute wat hulle verhoed om punte aan te teken.
Ná nog so ’n aanval kry Primrose ’n strafskop, maar die maklike skop word verbrou. Kort daarna kry die span weer ’n strafskop, en hierdie keer maak Bruwaine Lukas (plaasvervanger) seker van die skop om Primrose te laat voorloop.
Ongelukkig verbrou Primrose weer ’n strafskop en Villa kry toe later ’n strafskop oor wat die telling na 13 elk bring. Primrose ruk hulself daarna reg, met die besef dat met al die verbroude skoppe hulle lankal die wedstryd in hande sou gehad het.
Hulle val weer verwoed aan, wat beloon word met ’n drie van Oswald Scholtz (vleuel), maar weer is die skop pale toe mis. Die skop sorg wel vir ’n Primrose-oorwinning met die eindtelling op 18-13.




