Primrose het ná sy oortuigende oorwinning Saterdag teen Mountain Stars goeie rede om fees te vier.Foto:


Primrose het Saterdag (20 April) op Primrosepark in Worcester Mountain Stars oortuigend met 23 punte teenoor 7 punte kafgedraf.

Dit is ’n wedstryd wat begin is met Mountain Stars wat dadelik op die aanval was en sommer ná vyf minute se spel ’n verdoelde drie gaan druk het.

Hiermee stuur dié span al vroeg vir Primrose ’n boodskap dat hy nie gekom het om sy trots prys te gee nie.

Maar Primrose wys ook wat in hom steek, en toe hy sy agterlyn wegstuur, kry die vleuel Sergio Adams die bal en gaan druk sy drie om die gaping na 7-5 vir Mountain Stars te vernou.

Ná die afskop is dit Primrose wat die aanvalswerk doen. Hy vorder meters ver met sy sterk pak voorspelers, maar verkeerde besluite verhoed hom om verdere punte aan te teken. Hy teken wel ’n bietjie later weer punte aan, danksy ’n strafskop deur die losskakel, Jowin Nel. Primrose loop met rustyd met 8-7 voor.

Primrose begin die laaste 40 minute, waarna ’n lynstaan gevorm word. Mountain Stars wen die lynstaan, maar slaan die bal aan. ’n Skrum volg.

Primrose wen die skrum en plaas hom weer op die aanval en hou die druk daar. Die plaasvervanger-losskakel Nathan Louw kry die bal en maak ook seker van sy drie en Primrose bly voor met 13-7.

Toe Primrose weer die bal in hande het, hardloop die span pragtig veld-op. Mountain Stars fouteer en Primrose kry ’n strafskop. Nathan Louw maak seker met die skop en Primrose se voorsprong styg na 16-7. Primrose gee nou alles wat hy het en sy voor- en agterspelers speel nou pragtig saam. Maar dis Primrose se senter, Morné van Wyk, wat die kollig steel en met alle krag en mag ook vir sy drie oorgaan. Nathan Louw se doelskop slaag.

Die eindfluitjie blaas met die telling 23-7 vir Primrose.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article