Primrose RVK het Saterdag (12 November) in Ashton teen die Blue Swallows gespeel en die wedstryd in die Top-18-Boland-rugbykompetisie 28-14 gewen.
Soortgelyk aan vorige wedstryde het Primrose reeds van die begin met mening aangeval, en is beloon met ’n drie in die eerste minuut. Sy linkervleuel, Ryan Haupht, het gedruk en was ook suksesvol met die doelskop (telling 7-0 vir Primrose).
Ná ’n reeds suksesvolle opening het Primrose nog ’n drie en doelskop verseker (telling 14-0 vir Primrose).
Die Swallows is in die wedstryd met twee strafskoppe beloon (telling 14-6 vir Primrose).
Die regtervleuel Hershell Matthys het die telling verder in Primrose se guns opgestoot met ’n drie asook ’n doelskop deur Haupt (telling 21-6 vir Primrose).
Ná halftyd het die senter Leachim Adams ’n bonusdrie vir Primrose verseker, en Marco Alberts het die doelskop tussen die pale deur gestuur (telling 28-6).
Die Swallows het in die laaste minute van dié wedstryd drie punte vir ’n suksesvolle strafskop aangeteken, wat die telling op 28-14 vir Primrose te staan gebring het toe die eindfluitjie blaas.

