Primrose-RVK, wat meer as ’n dekade nie meer aktief was nie, het geskiedenis gemaak deur in sy eerste jaar terug in die liga na ’n hoër liga bevorder te word.
Primrose-RVK het Saterdag (15 Oktober) in ’n promosierelegasiewedstryd in Robertson teen Orchard Sky-RVK gespeel en 32-14 gewen.
Die wedstryd was om ’n plek in die Streekliga-kompetisie van die Boland-rugbyunie (BRU).
Met die afskop het Primrose op al sy silinders gevuur met veral sy voorspelers wat die vaste- en losskrums oorheers het, sodat sy agterspelers met die bal kon baljaar.
Die duisende toeskouers is met hardlooprugby van hoogstaande gehalte vermaak en juis daarom was die telling teen rustyd reeds 20-0.
Met die afskop van die tweede helfte het Orchard egter met ’n pragtige terugvegpoging vorendag gekom en vinnig twee verdoelde drieë aangeteken, wat die telling na 20-14 laat krimp het.
Primrose het egter wakker geskrik, verwoed begin aanval en is ná strawwe pogings met ’n strafdrie beloon; telling 27-14 vir Primrose. Rugby het nou geseëvier en albei spanne het die bal lug gegee.
Orchard se uitstekende verdediging het Primrose weerhou om nog punte aan te teken, maar Primrose se aanvallende agterlyn het ’n breekslag benut, wat tot ’n onverdoelde drie gelei het; telling 32-14.
Dit was die eindtelling.
Primrose se puntemakers: (drieë) was Johaine Fransman, Gershwyn Roux en Shaun Ceasar. Ryan Haupht het met twee strafskoppe en twee doelskoppe geslaag.
Primrose speel voortaan in die BRU se Top-18-kompetisie.



