Primrose het sy 2025-rugbyseisoen onlangs met ’n vriendskaplike wedstryd teen Spring Roses van Grabouw op Moltenopark begin.
Die manne het vir hul eerste wedstryd redelik goed vertoon. Die B-span het sy wedstryd uiteindelik met 12 punte teenoor 5 gewen, terwyl die A-span met ’n telling van 19-12 in Spring Roses se guns tevrede moes wees.
Hierna het Primrose Saterdag (15 Februarie) sy tweede vriendskaplike wedstryd gespeel – dié keer teen Thistles van Aan De Doorns. Dit het ietwat beter gegaan as teen Spring Roses. Hier het die B-span 7-3 teen Thistles gewen, terwyl die A-span sy wedstryd met ’n telling van 36 punte teenoor 34 punte vir Thistles gewen het.
Primrose se derde wedstryd is Saterdag (22 Februarie) op Bolandpark se B-veld (oftewel Primrosepark) teen Progress van Botha’s Halt en die spelers sien daarna uit om ook in daardie wedstryd ’n goeie vertoning te lewer. Die keurders sal die spelers waarskynlik fyn dophou vir kombinasies ter voorbereiding op die komende rugby- seisoen. . Primrose hou op 1 Maart ’n gholfdag by die Riverside-gholfklub en die publiek word gevra om dié pretdag, waar groot pryse op die spel sal wees, te ondersteun.


