Lede van die publiek word na die eerste Pride-optog in Worcester op 7 Desember genooi.Foto: Ter illustrasie

Credit: David Lee

Geskiedenis word op 7 Desember in Worcester gemaak wanneer dié dorp vir die eerste keer in sy bestaan gasheer vir die alombekende Pride-optog gaan speel.

Lolitha van der Westhuizen (29), Worcester se eerste trans-vrou, sê vir baie LGBTQIA+-individue wat in landelike gebiede en klein dorpe woon, word die uitdaging om outentiek hulself te wees vererger deur marginalisering of die vrees vir geweld en diskriminasie.

Van der Westhuizen sê Jackye Majawie, stigter van Majawie Safe Space, is vasbeslote om daardie narratief te verander.

Majawie Safe Space is ’n organisasie sonder winsbejag in Delft, Suid-Afrika, wat veg vir die regte van die LGBTQIA+-gemeenskap.

Van der Westhuizen sê die Pride-optog is inklusief en almal is welkom om deel daarvan te wees.

Sy sê deur middel van die Pride-optog wil Majawie Safe Space die gemeenskap bemagtig met inligting oor die LGBTQIA+-gemeenskap, onder meer oor die uitdagings wat hulle daagliks moet trotseer.

Volgens haar wil Majawie Safe Space deur middel van die Pride-optog ook ondersteuning bied aan diegene wat gereeld aan mishandeling onderwerp of blootgestel word.

Van der Westhuizen sê met betrekking tot die beoogde Pride-optog kry hulle ongelooflik baie ondersteuning uit die Worcester-gemeenskap.

Volgens haar kry sy baie oproepe van mense wat meer oor die Pride-optog op 7 Desember wil uitvind.

“Pride beteken nie ons gaan ’n geveg opsit nie. Dis ’n friendly pride,” sê Van der Westhuizen.

Van die eregaste sluit in Miss Gigi, BB Vahlour, Miss Kendall Airho, Miss DD Mentor, Miss Modern Maharaj, Miss Lundon von Diamond en natuurlik Miss Queen Lolitha.

Volgens Van der Westhuizen begin die optog stiptelik om 10:00 van die Bolandpark-stadion in Fairbairnstraat. Dit sal deur Hoogstraat gelei word tot by die Worcester-polisiekantoor in Adderleystraat.

Van daar beweeg die groep terug na Bolandpark-stadion vir ’n geselligheid wat tot 18:00 sal duur.

Almal is welkom en toegang is gratis.

Streng sekuriteit sal vir die duur van die dag se verrigtinge geld.

Van der Westhuizen sê tydens die Pride-optog wil sy ook haar “nuwe self” in die openbaar bekendstel.

Vermaaklikheidskunstenaars wat in die stadion gaan optree, sluit onder meer DJ Clint en 3 Fingers in. Plaaslike kunstenaars word ook genooi om hul sangtalent by die geselligheid te kom tentoonstel.

Voorts word klein sake-ondernemings genooi om stalletjies by die stadion op te rig teen R150 per stalletjie.

Volgens Van der Westhuizen soek hulle nog borge wat onder meer gebottelde water en sap sal kan voorsien.

. Bel Jackye Majawie by 061 773 6521, Vinolia Sidukwane by 072 728 7766 of Van der Westhuizen by 078 427 4362 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article