Die saak van die drie polisiebeamptes en twee voormalige polisiebeamptes van Wolseley wat vroeër vanjaar in hegtenis geneem is weens klagte van inbraak, aanranding en intimidasie, is onlangs vir eers van die rol geskrap.

Die beskuldigdes – Byrone Williams (26), Heinrich Hendricks (38), Ricardo Conradie, Cashwin Visagie (29) en Wayne Boer (44) – is in September vanjaar in hegtenis geneem. Hoewel die borgtogproses gesloer het, is almal later op borgtog of op waarskuwing vrygelaat. Op Vrydag 9 September is daar in die plaaslike hof in Wolseley beslis dat die saak van die rol geskrap is. Navrae is aan die hof gerig, maar teen druktyd was daar geen antwoord nie.

Dit het ook in ’n stadium gelyk of hierdie beamptes dalk verkeerdelik aangehou is en by ’n vorige hofsitting op Donderdag 17 November is die saak weer uitgestel weens die feit dat die dossier nie die hof bereik het nie. Dit is steeds onduidelik waarheen die dossier gestuur is.

’n Anonieme bron het aan Standard hierdie bevinding bevestig en gestel dat hierdie gevaarlike aantygings was wat wou poog om die beamptes en die plaaslike polisiemag te teiken weens persoonlike vendettas.

Gemeenskapslede is verheug oor hierdie nuus en talle het aan hierdie beamptes se onskuld geglo.

Tydens van die hofsittings het families en naasbestaandes van die beamptes en voormalige beamptes gestel hulle is oortuig dat hulle onskuldig is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article