Buiten die twee verdagtes wat in 2022 vir die moord op Renée Jain in hegtenis geneem is, is ’n polisieman ook in hegtenis geneem.
Oudsersant Maurice Arries het Dinsdag 2 April in die hof in Wolseley verskyn. Hy was destyds verbonde aan die Piketberg-polisiekantoor.
Jain is op 26 Maart 2021 in haar huis op ’n landgoed buite Wolseley vermoor. Die Wolseley-polisie het Jain aangetref met haar hande en voete met kabelbinders gebind en iets oor haar neus geplak. Patoloë het gesê sy het versmoor en het ook kopbeserings gehad.
Twee verdagtes is later in 2022 deur middel van DNS-toetse met die moord verbind en in hegtenis geneem.
Arries is in Desember 2022 in hegtenis geneem en is daarvan beskuldig dat hy een van die verdagtes, Frederick Lottering, uit die tronk help ontsnap het. Volgens inligting het Arries glo voorheen erken dat hy Lottering teen betaling gehelp het om te ontsnap. Hy is glo R3 000 in Shoprite- koepons betaal. Lottering het glo by sy vriendin gaan kuier. Die volgende dag toe Arries Lottering terug tronk toe wou neem, kon hy hom nêrens opspoor nie. Lottering het Arries later laat weet dat hy in Ceres is. Arries het hom gaan haal en was volgens hom onbewus van die moord wat Lottering na bewering gepleeg het.
Arries het tydens sy verskyning op 2 April ontken dat hy enigsins by die moord op Jain betrokke was.
Arries, Lottering en Nolan Visagie en Anthony Shippers het weer Woensdag in die hof verskyn. Hulle staan almal tereg op aanklagte van huisbraak met die doel om te roof, roof met verswarende omstandighede, sameswering om moord te pleeg, sameswering om te roof, moord, aanranding, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, en aanklagte ingevolge die wet op Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.



