’n Ma van Ashton is hoogs ontsteld oor haar seun glo sonder rede verlede week deur ’n polisieman geklap is.

Sy skryf op die Ashton en sy dinge- Facebook-blad dat sy diep teleurgesteld is in die betrokke polisiebeamptes.

“Vandag is ek diep teleurgesteld in sekere polisiebeamptes. My seun en sy vriende het gaan visvang. ’n Sekere polisieman sê toe vir my seun ‘voertsek’. My seun sê toe op sy beurt ‘oom moenie so lelik met my praat nie’. Die polisieman gaan en klap toe my seun,” skryf sy.

Verder verduidelik sy die polisieman het later na haar seun toe teruggegaan.

“Lank daarna kom hy en sy kollega en vra om verskoning.

“Ek as moeder het geluister wat die kollega sê, maar dit het my gebreek dat die een wat my kind geklap het, niks gesê het nie.”

Die bekommerde ma het haar toe na die polisiekantoor gehaas.

“En ek’t gevoel as moeder ek gaan polisiekantoor toe om ’n klagte daar te gaan aanmeld. Ek was geskok toe ons daar ingaan. Dit het gelyk asof hulle ons inwag. En so baie dinge is daar gesê, en hoe hulle vir mekaar opkom. Ek wou ’n saak teen die polisieman gaan aanmeld.”

Die bekommerde ma het ná die tyd, in ’n boodskap aan Standard & Gazette gesê haar seun is nou bang om buite in die straat rond te loop.

Standard & Gazette het twee keer per e-pos asook telefonies by die Ashton-polisie navraag gedoen, maar die navraag is nie beantwoord nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article