Hoewel hy uit die polisiediens getree het, sal hy steeds uit sy pad gaan om diegene wat by hom om hulp kom aanklop, tot die beste van sy vermoë te dien omdat die gemeenskap sy lewe is.
So sê AO Burnett Prince (60) wat Maandag (30 September) die tuig ná 38 jaar diens in die polisie neergelê het. Prince was tot sy aftrede verbonde aan die Rawsonville-speurtak.
Prince, wat oorspronklik van Wellington is, se polisieloopbaan het op 30 Oktober 1987 begin toe hy as konstabel by die Springbok-polisiekantoor aangestel is. Hy was toe maar 22 jaar oud.
Hy sê in die twee jaar wat hy daar diens gedoen het, het hy ook met die Suid-Afrikaanse Narkotikaburo (Sanab) asook die goud-en-diamant-tak gewerk.
Volgens hom het hy ook afgedeelde diens by die grenspos van Namibië naby Vioolsdrift verrig.
Hy is in 1990 na die Tulbagh-polisiekantoor verplaas. Dis hier waar hy later tot sersant en toe speurder bevorder is. Prince het 11 jaar by Tulbagh-polisiekantoor gewerk.
Hy sê hy het in 2001 vir ’n oorplasing na die Rawsonville-polisie gevra omdat sy vrou, Mercia, ’n maatskaplike werker, by die departement van maatskaplike ontwikkeling in Worcester werk.
Die egpaar het in daardie stadium in Worcester gewoon. Hulle het hulle in 2022 in Rawsonville gaan vestig.
Burnett sê hy het in sy loopbaan verskeie moord-, strafbare-manslag- en bedrogsake ondersoek. Hy het ook misdaadvoorvalle wat by die Brandvlei-gevangenis en tronke in omliggende dorpe plaasgevind het, ondersoek.
Hy sê met die opening van die polisie se eenheid vir seksuele misdrywe teen vroue en kinders in 2004 in die Wes-Kaap was hy deel van die eerste groep kandidate wat ’n kursus in dié verband voltooi het.
Dié ervare speurder sê kort ná die kursus het hy en Mercia ’n lewenslange tronkstraf-vonnis verseker vir ’n stiefpa van Rawsonville wat sy elfjarige stiefdogter oor ’n tydperk verkrag het.
Mercia het as maatskaplike werker slagoffer-ondersteuning aan die meisie gebied. Regter John Hlope het die egpaar destyds vir hul uitstekende werk bedank.
Burnett sê een van die hoogtepunte in sy polisieloopbaan was toe hy ’n skuldigbevinding en tronkstraf verseker het in die strafbaremanslagsaak waarin die skrumskakel Riaan Loots van die Rawsonville-rugbyklub in ’n rugbywedstryd op 23 Junie 2006 teen die Delicious-rugbyklub van Ceres noodlottig beseer is.
Hy het in 2012 ’n nasionale sertifikaat in misdaad-ondersoeke verwerf.
Burnett se kollegas het Vrydag 27 September ’n afskeidspartytjie by Dennebos op die terrein van Brandvlei-gevangenis gehou.
Oor wat sy toekomsplanne behels, sê Burnett: “Kyk, ek is ’n blommemens. “Ek kweek graag dahlias; nou wil ek met orgidee-blomme begin.”





