Ná amper 41 jaar het Meyer Zurnamer, ’n polisieman van Worcester, die tuig neergelê.
AO Zurnamer het op 7 Desember 1981 by die destydse Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) aangesluit.
“Destyds was daar mos nie baie keuses wat werk betref het nie. Dit was óf die army óf die polisie. Toe kies ek maar die polisie,” verduidelik Zurnamer.
Sy eerste aanstelling was in Durban en daarna het hy in 1989 na Worcester verhuis, waar hy sedertdien in die polisie gedien het.
“Destyds, toe ek begin werk het, het ek skofte gewerk en later by die lykshuis, en om dit te verander het ek weer skofte gewerk. Ek het die laaste 14 jaar in die afdeling vir voorsieningskettingbestuur gewerk.”
Zurnamer sê hy het dit baie geniet om oor die jare in elk van die verskeie departemente binne die polisie te werk.
“Kyk, elke afdeling het mos maar sy unieke uitdagings. Ek het dit geniet om in elke afdeling te werk – veral nou, die laaste paar jaar, waar ons seker gemaak het dat die manne wat strate toe gaan alles kry wat hulle nodig het.”
Hy meen ook die Suid-Afrikaanse Polisiediens is ’n goeie loopbaankeuse vir jong mense.
“Baie geleenthede is binne die polisiediens beskikbaar; soveel verskillende loopbane wat binne die polisiediens gevolg kan word.
“Jy kan nooit verkeerd gaan om vir hulle te werk nie. Jy sal altyd geleenthede hê om jouself vorentoe te neem en op te bou.”
Hoewel hy sy werk baie geniet het, sien hy nog meer uit na sy aftrede.
“Iewers moet ’n mens totsiens sê. Ek het ’n leeftyd vir die polisie gewerk. Dit was vir my lekker om oor die jare my deel te doen om die gemeenskap te dien en om seker te maak mense in die gemeenskap is veilig. Maar vir nou gaan ek eers ’n bietjie rus en sal dan in die nuwe jaar besluit wat ek met al my ekstra tyd gaan doen.”





