’n Polisieman is erg gewond toe hy verlede Vrydag met ’n mes aangeval is.

Die polisieman, wat van diens af was, het in Hexpark saam met sy vriende gestap toe hulle aangeval is.

“Hy en sy vriende het in Idlewindsstraat geloop toe hulle ’n ander groep mans opmerk wat onder mekaar skel. Een van hulle het toe gevra wat aangaan,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.

Een van die ander groep se mans het toe gevra wie hulle is en of hulle enigiets het.

“Hy het toe ook vir die polisieman en sy vriende gesê hulle moet nie hardkoppig wees nie, en wou toe die een met ’n mes steek. Daar was toe ’n stryd tussen die manne. Die mes het geval en een van hulle het daarop getrap sodat die verdagte dit nie kon optel nie. Daar was toe ’n verdere bakleiery en die verdagte het toe weer die mes in die hande gekry.”

Die verdagte het toe die polisieman in sy gesig met die mes bygekom.

“Die polisieman is in sy kop gesteek. Hy het weggehardloop en neergeval, maar die verdagtes het hom agterna gesit en hom weer begin steek toe hy val. Die verdagte het hom toe oor albei sy lippe gesteek en sy oor oopgevlek.

“Sy vriende het daarna die verdagtes van hom afgehaal en hy het daarin geslaag om weg te hardloop.

“Hy het toe in iemand se agterplaas gaan wegkruip en die polisie gebel.”

Die polisieman is hospitaal toe geneem en twee verdagtes is ’n paar dae later in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article