Die voorverhoor vir die vonnisoplegging van ’n Laingsburgse polisieman, wat in Julie vanjaar aan verkragting skuldig bevind is, sloer steeds sedert September.

’n Klag van verkragting is in 2016 teen Lizalise Sentane aangemeld.

Die slagoffer het beweer Sentane het haar in die aanhoudingselle van die Laingsburg-polisiekantoor verkrag en sy dienspistool tydens die voorval op haar gerig.

Die slagoffer was in hegtenis weens diefstal.

Sentane is later tydens ’n identiteitsparade uitgeken en in November 2016 in hegtenis geneem. Hy is later op borgtog vrygelaat en het voortgegaan om te werk, maar moes elke Woensdag by die polisie aanmeld.

Ná Sentane se skuldigbevinding in Julie, sou die hofsaak op 20 September vir voorvonnis-verslae hervat word. Dit is egter toe uitgestel na Dinsdag 8 November, maar is weer uitgestel.

“Die vonnisverrigtinge moes toe weer uitgestel word weens sy verteenwoordiger wat weens siekte afgeboek was,” het Standard van ’n onkreukbare bron verneem.

Volgens die vertroulike inligting wat deur Standard bekom het, is Sentane steeds in diens.

Volgens lt.kol. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse provinsiale polisie­woordvoerder, is Sentane in ’n interne ondersoek onskuldig bevind en na ’n ander departement binne die organisasie geskuif, waar hy glo nie met die publiek werk nie.

Volgens die bron vind die slagoffer dit moeilik dat haar verkragter nog op vrye voet is en nog toegelaat word om daar te werk.

Die saak sal nou eers weer op 15 Februarie 2023 vir vonnisoplegging hervat word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article