’n Polisiebeampte van Laingsburg, wat aan verkragting skuldig bevind is, is verlede week tien jaar gevangenisstraf opgelê.
Lizalise Sentane is daaraan skuldig bevind dat hy ’n 20-jarige vrou in 2016 in die aanhoudingselle van die polisiekantoor in Laingsburg verkrag het.
Die vrou is glo weens diefstal in hegtenis geneem en was ten tyde van die voorval alleen in die selle. Sentane is ook daarvan aangekla dat hy sy dienspistool op die slagoffer gerig het. Die slagoffer het hom later op ’n uitkenningsparade uitgewys.
’n Bron het destyds aan Standard & Gazette gesê die verhoor was lank en uitgerek.
“Talle staatsgetuies moes getuig, insluitend polisiebeamptes en die slagoffer. Die staat het ook DNS-getuienis aangebied en ’n dokter het ook in die saak getuig,” het die bron gesê.
Hoewel Sentane aan die verkragtig skuldig bevind is, is hy onskuldig bevind aan die rig van sy vuurwapen.
Sentane was vir die hele tydperk wat die saak aan die gang was, steeds in diens van die Suid-Afrikaanse polisie. Ná sy skuldigbevinding moes hy egter elke Woensdag by die polisiekantoor aanmeld. Hy is in ’n interne ondersoek onskuldig bevind.
Sentane het verlede week, ná sy vonnisoplegging, ’n aansoek om verlof om te appelleer aangeteken. Dit is op 6 November aangehoor.
Die skuldige se aansoek om verlof om teen sy skuldigbevinding op die aanklag van verkragting te appelleer, is egter deur die landdros geweier.
Die skuldigbevinding en tien jaar tronkstraf wat opgelê is, bly van krag.



