Na die teleurstelling wat die Mowers- en Smit-gesinne uitgespreek het oor die gebrek aan vordering in die ondersoek na die tref-en-trap- dood van hul dogter Marsha Smit (Standard 1 September 2022), het die ondersoekbeampte wat die saak hanteer lig op die onderwerp geplaas.
AO Kobus Willemse, wat die saak ondersoek, het meer inligting gegee oor die prosesse wat gevolg moet word wat sal lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes.
Marsha is verlede maand op die R43 na Wolseley doodgery.
Smit se oom, Jakobus Mowers, het hom op 16 Augustus na Facebook gewend om die deurbraak te deel dat die bestuurder van die blou voertuig wat sy niggie doodgery het, gevind is.
In ’n onderhoud met Standard verlede week het hy geen hoop gehad dat geregtigheid vir sy niggie gaan geskied nie. Volgens Mowers het die ondersoekbeampte vir hulle as familie gesê niks sal van die saak kom nie.
“Dit is beslis ’n misverstand tussen my en die betrokke families,” sê Willemse.
“Ek verduidelik altyd die prosesse wat ons moet volg vir ’n saak om sy gang te gaan.
“Ek het aan die oorledene se pa verduidelik ’n ondersoek sal gedoen word en die dossier sal na die staatsaanklaer gestuur word om te besluit of hulle met vervolging wil voortgaan of nie.”
Willemse het ook aan hom verduidelik dat sou die aanklaer besluit om te vervolg, die dossier aan hom teruggestuur word met die opdrag om die bestuurder van die voertuig voor die geregshof te bring. In die geval waar die aanklaer besluit om nie te vervolg nie, sal die dossier terugkom na Willemse wat dan die saakdossier vir ’n geregtelike doodsondersoek moet voorberei.
“Dit is waar ek dink die misverstand ingekom het, deurslaggewende dele van ons gesprekke is weggelaat toe die familiewoordvoerder met die media gepraat het.
“Ek kan jou verseker dat die bestuurder van die voertuig definitief aangekla sal word sodra ek alle inligting ontvang het. Daar was geen rede om die bestuurder in hegtenis te neem nie aangesien hy nie ’n vlugrisiko is nie,” het Willemse aan Standard verduidelik.




