Owerhede was vinnig op die toneel waar ’n man Sondagoggend (12 Maart) naby die N1 Shell Ultra City aangeval en beroof is.

Credit: SYSTEM

Ambulansdienste het vinnig gereageer nadat ’n man Sondagoggend (12 Maart) naby die Shell Ultra City-vulstasie teen die N1 aangerand en beroof is.

Die man, wat vermoedelik onderdeur die N1-deurgang tussen die twee vulstasies gestap het, is omstreeks 07:45 deur twee rowers genader en van waardevolle besittings beroof. Die slagoffer is ook veelvuldige messteekwonde toegedien, maar het daarin geslaag om van sy aanvallers af weg te kom.

Johannes van der Bank, die bestuurder by die Shell-noord vulstasie, het die voorval aan Standard bevestig en gesê die slagoffer het na die vulstasie gestap om hulp te kry.

“Hy het rustig hier aangekom en ons werkers oor die voorval ingelig. Ons het hulp ontbied en hy is bygestaan.”

Van der Bank het ook bevestig die voorval het nie enigsins op die vulstasie se perseel plaasgevind nie, maar dit was bloot die naaste punt waar die slagoffer om hulp kon soek.

Priority Care-ambulansdienste was een van die eerstes op die toneel en het die man dadelik bygestaan.

“Ons het die man met veelvuldige steekwonde op die toneel gekry nadat hy glo rowers afgeweer het. Ons het hom gestabiliseer en na die Worcester-hospitaal geneem,” het Christiaan van Zyl van die ambulansdienste aan Standard gesê.

AO Grant Stynder van die Worcester-polisie het egter gesê hulle weet niks van die voorval nie.

’n Foto van die toneel wys ’n polisievoertuig duidelik in die voorgrond.

Die provinsiale polisie hou ook vol dat hulle geensins van die voorval weet nie.

Dit is nog onseker of die rowers vasgetrek is en of die polisie ’n saak ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article