Kapt. Ronel Alberts van die Worcester-polisie het Saterdag (14 Januarie) die provinsiale prys as Sportvrou van die Jaar op ’n gala-geleentheid by die polisie se prysuitdeling in Kaapstad gewen.


Lede van die plaaslike polisie is op ’n onlangse gala-geleentheid in Kaapstad vir hul bydrae tot die polisiemag in die Wes-Kaap vereer.

Kapt. Ronel Alberts (47) van die Worcester-polisie is die D-skof se operasionale bevelvoerder, maar ook iemand wat kundig is as dit by die gebruik van vuurwapens kom. Sy het voorheen al talle pryse vir haar vermoë om ’n vuurwapen te hanteer en te gebruik, gewen.

“Ek het al verskeie medaljes gewen en het al twee keer die polisie se SA kampioenskap gewen – die enigste vrou wat dit reggekry het. In 2009 was ek een van twee lede wat vir ‘Combat Rifle’ gekies is om die polisie in Kanada vir die World Police and Fire Games te gaan verteenwoordig, waar ek ook ’n goue medalje in die individuele afdeling en ’n silwermedalje vir die span verower het. Die jaar 2022 was egter vir my ’n hoogtepunt toe ek my Proteakleure as ‘Combat’-skut verwerf het. Ek is ook die enigste vrou in die Proteaspan. Ek het al drie keer by die SA kampioenskap onder die top-10 geëindig,” vertel sy trots.

Alberts het die afgelope naweek die titel van Sportvrou van die Jaar by die provinsiale prysuitdeling by Century City losgeslaan. Dit was die tweede keer dat sy hierdie prys gewen het.

“Dit is ’n onbeskryflike eer en voorreg. Dit is regtig ’n belewenis om op so ’n geleentheid in jou formele klere op die rooi tapyt te pronk en dan nog ’n prys te wen ook.”

Alberts is ’n boorling van Ceres en het haar opleiding in Oudtshoorn voltooi.

“Dit is hier waar ek die eerste keer ’n wapen opgetel het, en my passie het van daar af ontwikkel.”

Nog vier ander lede van die honde-eenheid in Worcester was die naaswenners in die afdeling van Vispol-span van die Jaar, en is besonder trots op hierdie prestasie ná ’n moeilike jaar.

“Dit was ’n moeilike jaar, maar ten spyte daarvan het ons deurgedruk en dit bereik. Ons is dankbaar daarvoor en dit is ’n groot eer vir ons span,” vertel AO Granwill Michaels van die honde-eenheid aan Standard.

Die lede wat vereer is en as span tweede was, is AO Bertrum Jaftha, sers. Zane Swanepoel, sers. Neels van Huysteen en AO Granwill Michaels.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article