Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdi­rektoraat (Opod) skenk aandag aan ’n voorval waarin lede van die Prince Alfred’s Hamlet-polisie ’n 24-jarige man glo erg aangerand het.

Dit het Donderdag 15 Augustus in die dorp se hoofstraat, oorkant die vulsta­sie, plaasgevind. ’n Raadslid van die Good Party, Katriena Robyn, het die voorval sien gebeur, maar wou nie kommentaar lewer alvorens sy haar verklaring by Opod afgelê het nie.

“Ek het gesien hoe dit gebeur. Maar ek wil nie nou in die media daaroor praat nie, want ek wil nie die ondersoek belemmer nie,” het sy telefonies aan Standard & Breederivier Gazette gesê.

Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, sers. Wesley Twigg, asook die Prince Alfred’s Hamlet-polisie se stasiebevelvoerder, is Opod reeds besig om die saak te ondersoek en daarom wou hy ook nie uitbrei oor wat presies gebeur het nie.

Phaladi Shuping, ’n woordvoerder vir Opod, het Dinsdagoggend laat weet hulle is nog nie bewus van die saak nie, maar dat die provinsiale hoof gevra het een van hul ondersoekers moet dit dringend opvolg.

Volgens Robyn was die man so erg aangerand dat hy hospitaal toe moes gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article