Die polisie ondersoek die dood van ’n 81-jarige vrou nadat sy by ’n tehuis in Ceres “buite vergeet” is.
Die bejaarde vrou, Sagrya Engelbrecht, wat by die tehuis dood is, se seun Fanus het Dinsdag aan Standard gesê dit wat reeds bekend is, is al wat hulle nou wil deel.
“ ’n Groot ondersoek is aan die gang en ek wil niks meer daaroor sê nie,” het hy gesê.
Sagrya is Sondag 7 Augustus vermoedelik buite in die koue “vergeet” nadat sy in haar rolstoel uitgeneem is om te gaan rook. Dit is egter onduidelik hoe laat sy die aand uitgeneem is.
Sy was ’n inwoner van die Maudie Kriel-tehuis.
Standard het ook navraag by die tehuis gedoen, maar is in kennis gestel die personeel mag nie met die media oor die voorval praat nie. Die tehuis het wel ’n persverklaring uitgereik.
“Die hoofbestuur en die beheerraad van ACVV-Huis Maudie Kriel betoon hul innige meegevoel met die familie van die inwoner van ACVV-Huis Maudie Kriel in Ceres, wat Sondagoggend 7 Augustus oorlede is tydens omstandighede wat tans deur die ACVV se hoofbestuur, in samewerking met die tehuis en die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, ondersoek word. Die beheerraad en die hoof van die tehuis is in kontak met die familie en sal die nodige ondersteuning bied. Die ACVV-hoofbestuur is ook tans besig met ’n proses om na die familie uit te reik,” lui die verklaring se eerste paragraaf.
Die polisie doen ook ’n ondersoek na die bedenklike dood van Sagrya Engelbrecht.
“Die omstandighede rakende die dood van ’n vrou by ’n tehuis vir bejaardes in Ceres word ondersoek. Die Ceres-polisie het ’n voorval van ’n skielike dood Sondag 7 Augustus bygewoon. Met hul aankoms by die adres in Van Riebeeckstraat om 07:54 het hulle die liggaam van ’n vrou in ’n rolstoel gevind. Die slagoffer is deur die mediese personeel op die toneel dood verklaar.
“Die Ceres-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek vir verdere ondersoek ingestel,” het die polisie se provinsiale woordvoerder, kaptein FC van Wyk, gesê.
Witzenberg se onderburgemeester, Felicity Klazen, van die GOOD-party, het in ’n verklaring gesê die party het die tehuis besoek om ’n inspeksie te doen.
“Sedert die voorval het GOOD besoek by Huis Maudie Kriel afgelê om die terrein te inspekteer, waar diegene in beheer ons hul toewyding gegee het om ten volle saam te werk met voortgesette ondersoeke. Hierdie ondersoeke sal hopelik ’n bietjie insig gee in wat gebeur het en ons verwag as bevind word iemand was nalatig, hulle met die volle mag van die wet tegemoet gekom sal word,” het Klazen in die verklaring gesê.
Die hoofbestuur van die tehuis het ook gesê hulle gee hul volle samewerking in die ondersoek en vra ook die oorledene se familie moet in hierdie tyd gerespekteer word.
“Die tehuis word deur die gemeenskap, asook die inwoners se families, ondersteun en vorm ’n integrale deel van die plaaslike gemeenskap. Daarom versoek die ACVV se hoofbestuur die nodige ondersteuning teenoor die oorledene se familie, die gemeenskap van Ceres, asook die tehuis se inwoners en personeel gedurende hierdie moeilike omstandighede, wat ’n prioriteit sal wees, en bedank die owerhede en die publiek vir hul ondersteuning.”
Die polisie versoek enigiemand met inligting oor die tragiese voorval om Crime Stop by 08600 10111 te kontak.





