Dr. Mogale Sebopetsa (Wes-Kaapse hoof van landbou), Ivan Meyer en plaaslike leerders. Foto:


Die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr. Ivan Meyer, het verlede week die Worcester Veld Reserve-navorsingsplaas buite Worcester besoek.

Tydens die besoek het min. Meyer beklemtoon dat die departement van landbou ter viering van Boomplantmaand altesaam 8 608 inheemse bome, insluitend die wildeperske-, fuschia-, ashout- en die vals olyfboom aan verskeie organisasies, insluitend laerskole, gaan versprei.

Die laerskole Overhex NGK, Worcester-Oos en Brandwacht, die Vroue-landbouvereniging (VLV) en plaaslike boere het ook bome ontvang.

“Een van die maklikste maniere om die uitwerking van klimaatsverandering te versag, is om ’n boom te plant,” het Meyer gesê.

“Maar ons kan dit nie alleen doen nie. Vennootskappe met organisasies soos die Breedekloof-wynvallei, Landcare Suid-Afrika en die Bergrivier-watergebruikersvereniging is noodsaaklik.”

Erica Scholtz, uitvoerende hoof van Bergrivier-watervereniging, het gesê dié samewerking was instrumenteel in die bou van veerkragtigheid teen sommige van die dringendste uitdagings wat in die gesig gestaar word, insluitend klimaatsverandering en natuurrampe.

“Een van die mees tasbare voorbeelde van die krag van samewerking is die deurlopende werk in die uitwissing van uitheemse indringerplante.”

“Deur indringerspesies te verwyder, wat groot hoeveelhede water verbruik, het ons meer water vir die landbou en die omgewing beskikbaar gestel.

“Ons het sedert 2021 reeds 2 000 ha uitheemse plante skoongemaak, wat die ekwivalent van 230 000 swembaddens se water bespaar het,” het Scholtz bygevoeg.

Volgens Rudolph Roscher, die departement se adjunkdirekteur van Landcare, bring die projek die regering, grondeienaars, bewaringsowerhede en ’n diverse groep nieregeringsorganisasies bymekaar om natuurlike hulpbronne te herstel en te beskerm.

Rudolph Roscher sê: “Ons kan beskadigde ekologiese infrastruktuur herstel deur uitheemse plantegroei te verwyder en inheemse plante te plant.”

Min. Meyer was van mening dat sulke projekte help om veerkragtigheid teen klimaatsverandering en natuurrampe te bou en broodnodige werksgeleenthede bied.

“Verlede jaar is 31 000 ha uitheemse plantegroei verwyder en 1 775 werksgeleenthede geskep,” het die minister bygevoeg.

“Die projek help om ons werksgeleenthede te vergroot, veral vir die jeug wat by projekte soos die verwydering van uitheemse plantegroei werk.

“Groei vir werk bly ’n sleutelprioriteit vir die Wes-Kaapse regering,” het die minister afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article