Talle ondernemings en instansies wat verskeie dienste lewer aan die publiek se werkers word gekniehalter tydens beurtkrag gedurende die dag.
Selfs werkers by verskeie van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) se geboue kan ook nie hul dienste lewer of werk tydens beurtkrag nie.
Standard het navraag gedoen by die munisipaliteit om te hoor of hulle geboue kragopwekkers het en watter ander planne in plek gestel is vir wanneer die krag af is.
Behalwe dat munisipale werkers nie kan werk nie, word die gemeenskap ook negatief geraak omdat hulle nie gebruik kan maak van ’n verskeidenheid munisipale dienste nie omdat plekke soos die verkeersdepartement en binnelandse sake sonder krag sit.
Volgens Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die BVM, het die munisipaliteit ’n gesamentlike operasiesentrum saamgestel om te kyk na hoe die newe-effekte van beurtkrag hul dienslewering affekteer.
“ ’n Hele aantal maande gelede, knap nadat beurtkrag weer ’n bepalende deel van die Suid-Afrikaanse lewe geword het, het BVM ’n JOC (Joint Operational Centre of gesamentlike operasiesentrum) gestig wat funksioneer soortgelyk aan die JOC tydens Covid. Hierdie Electricity disruption – Business continuity JOC vergader eenmaal per week en daar is reeds aansienlike vordering gemaak om munisipale dienslewering voort te sit tydens beurtkrag,” verduidelik Botha.
Sy sê verder dat daar reeds ondersoeke na die probleme wat spruit uit beurtkrag gedoen is en ook reeds afgehandel is.
“Onder andere is ondersoeke gedoen en meestal afgehandel oor watter geboue watter soort en hoeveelheid elektrisiteit benodig, byvoorbeeld omskakelaars, kragopwekkers en/of sonpanele, asook die moontlikheid en hoeveelheid van diesel wat opgegaar moet word.”
Daar is egter munisipale dienste en geboue wat wel reeds tydens beurtkrag krag het.
“Tans het sleutelpunte soos die rekenaarsentrum en die Brandweer-gebou wel kragopwekkers. Personeel met skootrekenaars kan by hierdie punte tydens beurtkrag gaan werk.
“Daar is ook tans ’n projek aan die gang om soveel as moontlik personeel meer mobiel te kry deur lessenaar-rekenaars met skootrekenaars te vervang.”
Sy noem ook dat die afkondiging van die noodtoestand hul weg vorentoe in hierdie verband makliker sal maak.
“Met die amptelike afkondiging van die noodtoestand in die Staatskoerant sal verkrygingsprosesse aansienlik vergemaklik word om die nodige bykomende toerusting aan te skaf om die hoeveelheid onderbrekings te beperk.”


