Plaaslike plaaswerkers, wat as gemeenskapsgesondheidswerkers opgelei word, het onlangs hul stories met trots met die Wes-Kaapse minister van gesondheid, dr. Ivan Meyer, gedeel.
Katriena Vermeulen Smith is een van 24 plaaswerkers van die Breedevallei wat ingeskryf is vir ’n kursus wat altesaam agt weke duur, en sê sy kan nie wag om te deel wat sy geleer het nie. “Ek het altyd gedink gesondheid is net pille en brille, maar dis baie meer. Ons leer ook oor geldsake en wetgewing. Hoekom? Want as jy nie finansies het nie, kan jy mos nie andersins gesond wees nie,” het sy aan die minister gesê. Sy besef as sy voorheen die kennis gehad het wat sy tydens die kursus van Philani opgedoen het, sou sy lankal ’n verskil kon gemaak het. “Hierdie is vir my iets groots. Die mense noem my nou ‘Sister’.”
Heloise Joseph sê die kursus was vir haar ’n droom wat waar geword het, want as kind het sy gesien hoe ’n beroerte haar ouma geraak het. Sy wou graag eendag ook mense soos haar ouma help. Ander het gedeel dat hulle nie gedink het hulle sou dit kon doen nie, maar dat hulle volgehou het, en al hoe beter vaar. Ander het gesê die gedeelde ervaring het plaasgemeenskappe nader aan mekaar gebring en hulle kan mekaar nou help.
Die projek om plaaswerkers as gemeenskapsgesondheidswerkers op te lei het ontstaan toe een van die Wes-Kaapse departement van gesondheid se vennote die geleentheid vir gesonder gemeenskappe gesien het indien mense verdere opleiding kry.
Gemeenskapsgesondheidswerkers is mense wat toegerus word met die basiese inligting oor gesondheidstoestande, wat dan in hul woongebiede inligting deel en mense aanmoedig om van die dienste by die naaste kliniek gebruik te maak.
Hulle kan ook ondersteuning gee aan mense wat kroniese medikasie gebruik om seker te maak dat hulle die behandeling voltooi.
Die regeringsorganisasie NorSA, die gesondheidsdepartement in die Kaapse Wynland, Botha- en Slanghoek-kelder en hul produsente, en die wynbedryfliggaam Vinpro het koppe bymekaar gesit oor wat elkeen kan bied. Die departement van landbou was gretig om betrokke te wees, want menslikheid en welstand is een van die fokusgebiede in die herposisionering van landbou ná Covid-19.
“Die uitdagings is enorm, maar wanneer jy vennootskappe het, het jy ’n kans om die probleme aan te durf. Wie vind baat? Die plaaswerker wat die diens gebruik,” het Meyer gesê. Landbou in die Kaapse Wynland dra 11% by tot die ekonomie van die Wes-Kaap. “Hoe kan jy die ekonomie herstel as jou werkers siek is? Wanneer vroue op ’n plaas kyk na hul eie gesondheid, verander hulle almal daar se uitkyk op gesondheid.” Hy het aan die groep wat opgelei word, beklemtoon dat hulle ’n belangrike rol vervul deur om te sien na ander se gesondheid.
Die departement van gesondheid bedank alle belanghebbendes vir hul aandeel aan die projek, van die beskikbaarstelling van plaaswerkers tot opleiding en die koördinering van die projek vorentoe.
Die gemeenskapsgesondheidswerkers wat ingeskryf het, sal binnekort hul sertifikate ontvang vir die voltooiing van die geakkrediteerde kursus.





