Die Breedevallei-plaaswag wil kameras in Rawsonville aanbring om veiligheid te verskerp. Foto:


Die Breedevallei-plaaswag het aangekondig dat hy kringtelevisiekameras in Rawsonville wil aanbring om veiligheid te verskerp.

Nico Harmse, die voorsitter, sê die dorp ervaar al meer probleme met diefstal tussen 02:00 en 04:00 en die kameras sal hulle help om die diewe makliker op te spoor.

“In die laaste ruk kla baie inwoners dat hul dromme in die nag gesteel word, asook krane en hekke,” verduidelik Harmse.

Die kameras sal 24 uur per dag gemonitor word.

“Die doel van die kameras sal wees om verdagte mense en voertuie te monitor en aksie te neem waar nodig. Dit gaan dit baie makliker maak om verdagtes op te spoor en ’n oog oor die situasie te hou. Ons sal ook dadelik kan reageer sou iemand moontlik in die vroeë oggendure of saans laat in die strate ronddwaal en verdag lyk. Verdagte voertuie, wat tussen huise beweeg, kan ook gemonitor word,” lui ’n deel uit die Facebook-inskrywing wat die plaaswag hieroor geplaas het.

Volgens Harmse is die plekke waar die kameras in die dorp opgerig sal word, reeds geïdentifiseer.

“Ons gaan volgende week reeds ons eerste twee kameras installeer. Ons wag net vir finale goedkeuring van die munisipaliteit. Ons beoog om volgende maand nog twee te installeer.”

Maar, voeg hy by, hulle het hulp nodig om die doelwit van 13 kameras te bereik.

“Die plaaswag is ’n organisasie sonder winsbejag, en dus het ons skenkings nodig om die projek na wense uit te voer. Die doel is om die projek oor ’n tydperk van drie jaar te voltooi.

“G24 en Vetus Schola is bereid om die monitering van die kameras gratis te doen. Hul beheerkamer is in Rawsonville. Inligting kan dan deurgegee word aan ander veiligheidsmaatskappye soos ADT, wat saam met die plaaswag werk, en die SAPD indien nodig,” skryf Harmse.

Mense wat wil bydra, kan Harmse by control@g24.co.za kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article