Van links is Adam Lewerlot (assistent superintendent van paaie), Pholwana Theoa (senior bestuurder van die padskraper), Ivan Meyer (Wes-Kaapse provinsiale minister van landbou), Elna von Schlicht (burgemeester van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit) en Francois van Eck (uitvoerende direkteur van KWDM se tegniese dienste).Foto’s: Jana Scheepers


Die onlangse oorstromings wat die Boland van spesifiek 13 tot 16 Junie ervaar het, het veroorsaak dat verskeie primêre en sekondêre paaie, soos dié waarvan boere gebruik maak, ontoeganklik is.

As ’n gevolg was inwoners in hul huise gestrand en boerderye, wat bydra tot die land se bruto binnelandse produk, was in ’n groot mate nie in staat om geld te maak nie.

Die Kaapse Wynland Distriksmuni­sipaliteit (KWDM) wat verantwoordelik is vir die regmaak van dié paaie het egter vinnig aan die werk gespring om die paaie te herstel.

Tydens ’n mediatoer na Skilpadfontein-, Slanghoek-, en Dekkersvleipad is Worcester Standard, Paarl Post asook die SABC ingelig oor die miljoene rande wat bestee is om die paaie tydelik te herstel, met die permanente en laaste opknappingswerk wat nog moet volg.

Volgens Elna von Schlicht, burgemeester van die KWDM, moes die munisipaliteit R44 miljoen opdok vir die tydelik herstelwerk nadat spanne “dag en nag asook naweke” gewerk het.

Rassie Otte, die adjunk-direkteur van konstruksie en instandhouding van die KWDM, het verduidelik dat die herstelwerk, spesifiek aan Skilpadfontein-, Slanghoek-, en Dekkersvleipad, dadelik begin het nadat die stormreën bedaar het en vir ses weke “aan en af soos die reën dit toeglaat het” van 13 Junie geskied het.

Volgens hom is die herstelwerk wel tydelik, met die bedoeling om nog daaraan te skaaf en skuur totdat dit perfek is, eerder as om dit heeltemal oor te doen.

Skilpadfonteinpad naby die ATKV Goudini Spa, asook Dekkersvleipad in die Paarl naby die Hugenote-tonnel is albei sekondêre, oftewel plaaspaaie, wat heeltemal oorspoel is.

Albei hierdie paaie het tydelike herstelwerk ondergaan en het slegs afrondingswerk nodig voordat dit permanent reggemaak is.

’n Gedeelte van die Slanghoek-teerpad buite Rawsonville het amper heeltemal weggespoel, en het ook tydelike herstelwerk ondergaan.

Maar anders as die twee sekondêre paaie gaan hierdie gedeelte nog aansienlike herstelwerk geniet, volgens Otte.

Ivan Meyer, die Wes-Kaapse provinsiale minister van landbou, was ook teenwoordig en het verduidelik dat dié klas herstelwerk reg oor die Wes-Kaap tans die provinsie R1 miljard kos.

Volgens hom is die Boland een van die land se grootste sagtevrugte-uitvoerders, en speel dit ’n kritieke rol in die land se ekonomie wat daartoe bygedra het dat die KWDM die paaie herstel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article