Andericco Galant.Foto: Jana Scheepers


Andericco Galant (22), ’n kranige netbalspeler en plaaslike sportster in die Breedevallei, gaan in Maart vanjaar aan die nasionale netbalkampioenskap in Noord-Wes dfeelneem, maar sy het jóú hulp nodig.

Galant, wat in Worcester gebore en getoë is, het al van kinderdae af ’n liefde vir sport – en spesifiek netbal – toe hy gereeld nadat die skoolklok gelui het, langs die netbalbaan verskeie oefensessies en wedstryde aanskou het.

Nadat Galant in 2019 aan die Worcester Sekondêre Skool in Roodewal matrikuleer het, het hy die toeskouerbank vir die netbalbaan verruil en op klubvlak begin speel, waar hy uitgeblink het.

Tans is hy ’n speler vir die Alberts-mans-netbalspan asook vir die Bolandspan, wat van 26 Maart tot 1 April vir die netbalkampioenskap na Rustenburg reis.

Volgens Galant het hy die nuus van sy deelname in die mans-netbal-Bolandspan vroeër vanjaar gekry, en oomblikke daarna ook uitgevind dat hy die span as hulpdoelverdediger (HV) tydens die kampioenskap sal verteenwoordig.

Volgens Galant oefen hy vyf dae per week, wat twee sessies by die Alberts-mans-netbalspan insluit, sowel as drie sessies waar hy op sy eie oefen en kardio- en kragoefeninge óf by die Esselenpark-sportterrein of by die huis doen.

Galant het telefonies aan Standard verduidelik dat hy hierdie sportsoort vir die “liefde van die saak” beoefen en self alle toerusting wat hy nodig het, sowel as uitgawes vir die kampioenskap in Rustenburg, self moet dek.

Tans samel Galant geld daarvoor in deur die o.10-, o.11-, o.12-, o.13- en o.19-netbalgroepe in Roodewal teen R50 per speler af te rig.

“Ek het gemengde gevoelens oor die kampioenskap,” het Galant gesê. “Ek is gestres oor die geld, maar ek is ook opgewonde en effens verward oor of ek gaan [deelneem] of nie [weens die kostes],” sê Galant.

Tot nou het dié talentvolle netbalspeler R7 000 nodig vir onder andere voedsel, verblyf en vervoer.

Om hierde doel te bewaarheid, het Galant die finansiële ondersteuning van barmhartige Breedevalleiers nodig.

Enige geldelike skenkings kan in die Capitec-spaarrekening met die rekeningnommer 168 212 9371 en takkode 470010 betaal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article