Verskeie vonnisse is die afgelope tyd in die plaaslike hof gevel.. In ’n saak wat uit Ceres spruit, is Heinrich Paulse (29) deur streeklanddros Bongiwe Mbulawa weens verkragting tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

Paulse het ’n 50-jarige vrou op 7 Desember 2019 op die plaas Spekrivier in die Ceres-distrik in haar woning verkrag.

Die slagoffer het Paulse geken. Hy het, nadat almal in die betrokke huis al geslaap het, die woning betree en die slagoffer in haar bed verkrag.

Sy het wakker geword tydens die aanval op haar en aanvanklik gedink dit is haar eggenoot wat geslagsgemeenskap met haar geïnisieer het.

Sy het Paulse egter herken en hy het van die toneel af probeer vlug. Die polisie is gekontak en omdat sy hom kon identifiseer, is hy kort daarna in hegtenis geneem.

Die staatsaanklaer, Chantall de Vos, het ’n slagofferimpakverslag ter verswaring van vonnis aan die hof voorgehou. In vonnisoplegging het die hof aangedui geen dwingende of regverdigingsgronde bestaan vir die hof om van die voorgeskrewe minimumvonnis af te wyk nie. . In ’n saak uit Rawsonville is Knowledge Soga (19) skuldig bevind aan strafbare manslag en gevonnis nadat hy sy vriend in ’n stryery oor ’n Mandrax-pyp doodgesteek het.

Die skuldigbevinding spruit uit ’n voorval op 1 April in Tierkloof in die Rawsonville-omgewing.

Soga en die oorledene, sy vriend Johan Blaauw, was die betrokke dag saam waar dwelms gebruik is. ’n Stryery het ontstaan oor wie se beurt dit was om die Mandrax-pyp te rook. Soga het in sy pleitverduideliking aan die hof voorgehou dat hy die oorledene met die Okapi-mes, wat hy in sy sak gehad het, wou skrikmaak.

Hy het na hom gesteek en die oorledene een keer met die mes in die bors getref. Blaauw het later die dag aan sy wond beswyk.

Die hof het bevind die beskuldigde was nalatig in sy optrede, en dit het tot Blaauw se dood gelei. Hy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis. . In ’n saak uit Ashton is Christopher Slingers op 4 Mei in die streekhof aan aanranding met die opset om ernstig te beseer, skuldig bevind.

Die voorval het op 27 Junie 2021 in Magnoliastraat in Ashton plaasgevind. Slingers het die woning van die slagoffer, sy gewese vriendin, betree. Sy het Slingers gevra om die perseel te verlaat, maar hy het haar toe met ’n bierbottel in die gesig geslaan en van die toneel af gevlug.

Hy is tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article