Worcester- en Langeberg-atlete het uitstekend gevaar by die onlangse SAs.

Vinnger, verder, hoër!

Die Wes-Kaap het vir die tweede agtereenvolgende jaar koning gekraai tydens die interprovinsiale SASA laerskole-atletiekkampioenskap.

Die byeenkoms is van 20 tot 22 Maart in Germiston aangebied.

Die Wes-Kaapspan het altesaam 88 medaljes gewen, waarvan 41 goues, 24 silwer en drie brons was. Gauteng was in die tweede plek met 78 medaljes en Noordwes derde met 28 medaljes.

Die provinsiale onderwysdepartement het die atlete se kostes gedra sodat elke talentvolle skoolatleet die geleentheid kon kry om teen die bestes in die land mee te ding.

Plaaslike atlete het ook hul stempel afgedruk.

Nie minder nie as sewe blitse van Riverview Primêr het gekwalifiseer om aan die byeenkoms deel te neem. Kayden Rhenoster het ‘n derde plek in die 80m (seuns o.11) behaal, Quinwen Lukas het ook ‘n derde plek in die 75m hekkies (seuns o.12) losgehardloop en Ashanty Kriel het ‘n bronsmedalje met ‘n derde plek (meisies o.13) in die 1 500-m-stap huis toe gebring.

Die adjunkhoof Rodney Booysen is as naelloop- en hekkiesafrigter vir die Boland se senior atletiekspan gekies.

Die Laerskool Montagu pronk met twee medaljes nadat Viljoen Conradie (o.11) goud in verspring en silwer in die 80m gewen het. Suna Bussell was 15de in die o.11-spiesgooi.

Drie leerders van die Worcester Primêre Skool het met die bestes in die land skouers geskuur. Melanie Lombaard was derde in spiesgooi, sesde in gewigstoot en agtste in diskus (o.12-meisies). Philip Viljoen het ‘n derde plek vir gewigstoot en 13e plek vir diskus vir o.13-seuns behaal.

Micaizen van Reenen was negende in die verspring vir seuns o.10.

Drie Noordjies van die Laerskool Worcester-Noord het aan die byeenkoms deelgeneem. Daniël Kriel het ‘n derde plek in die 1 500-m-stap vir die o.13-seuns behaal het.

Aleta Bruwer van die Laerskool Robertson was 10de in die hoogspring vir o13-meisies, Caro de Wet was negende in o.13-spiesgooi en Tiaan Fourie het aan die gewigstoot vir o.11-seuns deelgeneem.

Luan du Toit van die Laerskool Bonnievale het ‘n vierde plek in die o.12-verspring behaal en ook aan die 1500m deelgeneem.

Die SASA hoërskole- nasionale kampioenskap word van 2 tot 5 April in Bloemfontein gehou.

Tydens die ASA-byeenkoms, wat op 29 Maart gehou is, het Ejay Brown van Worcester Gimnasium ‘n goue medalje in die o.16-hoogspring met ‘n allemintige sprong van 1,93m verwerf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article