Twee van Worcester se suksesvolle uitvoerprodukte, Danny Ross en Shimmy Isaacs, is eersdaags in die nuwe plaaslike fliek Frankie & Felipé te sien.

Albei dié gesoute akteurs is met geweldige opgewondenheid gevul vir mense om die fliek te sien, wat in Februarie verlede jaar begin skiet het.

“Ek is definitief baie excited. Dis ’n beautiful fliek. Elke mens wat dit gaan kyk, sal iets daarvan kan saamneem.

“Dit wys ons mense in ’n ander lig en dit verander die narratief. Dit gee ’n gevoel van hoop,” het Ross aan Standard & Gazette gesê.

Isaacs beaam sy sentiment.

“Ek is so excited. Dit is so raar dat ons bruinmense ’n lekker feel-good coloured movie kan gaan sien. Die fliek gaan oor liefde; hoe bruinmense lief is vir mekaar.”

Sy voeg ook by dat daar selde positiewe stories oor bruinmense is.

“Ons is nie almal gangsters nie. Baie van ons maak goeie lewenskeuses. En in hierdie fliek is daar soveel individuele karakters geskep en hulle is so uniek.”

Danny Ross as Bevan.

Ross vertolk die rol van Bevan, ’n yogi, soos hy die karakter beskryf.

“Ek het in die eerste plek nie ’n oudisie vir die fliek gedoen nie, want die karakterbeskrywing het nie by my voorkoms gepas nie. Bradley Olivier, een van die fliek se skrywers, het my toe later gekontak en gevra of ek nie ’n oudisie wou doen nie.

“Op die ou einde het hulle die rol verander om my te pas. Dit was so cool, want ek het nog nooit ’n yogi gespeel nie en ek geniet ’n challenge,” verduidelik Ross.

Isaacs het op ’n soortgelyke manier by die projek betrokke geraak.

“My agent het vir my die oudisie aangestuur, maar ek het nie regtig tyd gehad nie. Toe bel die director my en sê hy wil graag hê ek moet die rol van Bennas vertolk. Ek het nadat hy my ’n bietjie meer van die karakter verduidelik het, sommer vinnig weggespring om ’n opname van my oudisie te maak en dit gestuur.

“Ek is verskriklik trots op daai rol.”

Op haar beurt wil sy hê mense moet trots voel nadat hulle die fliek gesien het.

“Ek wil hê mense moet besef hoe awesome hulle is. ’n Mens moet wegstap en trots voel en in hul identiteit staan.”

Frankie & Felipé open Vrydag (23 Februarie) in teaters landwyd.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article