Die Pionierskool in Worcester het verlede maand (28 Februarie) ’n radio-akademie geopen op dieselfde perseel as hul musiekskool, waar leerders hul vaardighede kan verbreed en radiokennis op hul curriculum vitae kan insluit.
Volgens Quinten Pendle, die hoof van dié afdeling, bied die radio-akademie Pionierskool se hoërskoolleerders tans die geleentheid om radiokennis op te doen in die vorm van ’n buitemuurse aktiwiteit wat hul werksopsies kan verbreed.
Van die vaardighede wat dié leerders sal bemeester, sluit in om nuusbulletins te skryf en te lees en musiek uit te saai sowel as mikrofoonopleiding en radio-aanbieding,
Leerders van die radio-akademie sal hul vaardighede by die Pionierskool se radiostasie, genaamd Pioneer School Radio, elke Woensdag van 19:00 tot 20:00 toepas.
Pendle sê die akademie is deur Lottoland gefinansier. Dit behels onder meer ’n klankdigte kamer sowel as sagte- en hardeware vir die radiobedryf, soos byvoorbeeld ’n rekenaar, tafel en oor- en mikrofone.
Leerders van graad nege tot graad 12 word aangemoedig om by die skool se radio-akademie aan te sluit, waar reeds sewe leerders lid van dié innoverende span is.
Pendle sê luisteraars kan uitsien na musiekprogramme, skolenuus en onderhoude met verskeie individue, en sê die leerders sal meestal self die inisiatief rakende uitsaai-skedules neem. . Luisteraars kan elke Woensdagaand aanlyn op Pioneer School Radio by http://s2.stationplaylist.com:7124/listen.mp3?fbclid=IwAR2FY-HyG6hRCX-W_uHZ50Uv62UUPCf2HLcK-cBBXiQOrPrCUvF8-yMPsrk inskakel. Die program word slegs van 19:00 tot 20:00 elke Woensdagaand uitgesaai.





