Die Pionierskool vir siggestremdes het Maandag (25 Februarie) ’n bus van die Fidelity Foundation ontvang.
Tesame met die bussie het die skool ook ’n tjek van R180 000 gekry.
Fidelity Foundation het saam met talle ander skenkers gewerk om hierdie skenking ’n moontlikheid te maak.
“Die Fidelity Foundation is al lank by die Pionierskool betrokke,” het Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van die Fedilty Services-Groep aan Standard & Gazette gesê..
“Toe ons hoor dat hul bussie onklaar geraak het, het ons gedink dit (’n nuwe bus) sal ’n goeie bydrae van ons kant af wees. Baie skenkers is by hierdie projek betrokke. Dis ook altyd lekker om ’n skenking aan die skool te gee, want jy weet die geld word reg aangewend. Dit is vir ons as maatskappy ’n voorreg om hier betrokke te wees.”
Bartmann en van die ander skenkers was Maandag self by die skool om die bussie aan die skool se hoof en leerders te oorhandig.
Michael Bredenkamp, die skoolhoof, het Maandag gesê hy is ongelooflik trots om deel van hierdie skool te wees.
“Ek is bewoë. Ek ervaar tans soveel emosies om te dink dat daar soveel mense met ’n omgee-hart is. Dit is regtigwaar ’n voorreg vir my om hoof hier te wees,” het Bredenkamp ná die amptelike oorhandigingseremonie gesê.
“Hierdie daad van goedheid is ’n goeie voorbeeld van hoe maatskappye saam kan kom om Suid-Afrika ’n beter plek vir almal te maak.
“Dit is ’n nederige ervaring vir alle betrokkenes en ’n bewys van die krag van samewerking en vrygewigheid,’’ het Bartmann in ’n mediaverklaring gesê.





