Blinde of siggestremde mense kry toegang tot dokumente deur ’n skermleser te gebruik wat teks hardop lees of op ’n spesiale hardeware-braille-toestel laat verskyn.

’n Groot gedeelte tegniese en wetenskaplike materiaal bly egter ontoeganklik vir blinde of siggestremde mense, omdat wiskundige vergelykings en diagramme as beelde vertoon word en nie as teks wat ’n skermleser kan lees nie.

Só sê Rynhardt Kruger, wat onlangs sy doktorsgraad in elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het.

Kruger se PhD is getiteld “toeganklikheid van tegniese dokumente,” wat metodes navors en ontwikkel wat dit vir blinde of siggestremde mense makliker kan maak om grafiese inligting in elektroniese dokumente wat nie teks bevat nie, te lees.

Kruger, wat self blind gebore is, sê hy weet hoe moeilik dit is om vergelykings en diagramme in wetenskaplike dokumente te lees. “Gedurende my studiejare was die materiaal in my handboeke nie altyd toeganklik nie. Ek het besef dat baie tegniese dokumente nie aan bestaande toeganklikheidstandaarde vir blinde of siggestremde mense voldoen nie.”

Kruger was egter ondanks dit die eerste blinde mens wat sy BSc-honneurs- en meestersgraad in rekenaarwetenskap aan die US behaal het.

Hy is passievol daaroor om mense met gestremdhede se toegang te verbreed en sê dit is belangrik om voortdurend na hulptegnologie te soek wat blinde mense of mense met ’n siggestremdheid kan gebruik om vergelykings en diagramme in wetenskaplike tekste te lees.

“Tans moet grafiese materiaal eers na ’n toeganklike formaat omgeskakel word voordat hulle dit kan lees. Die probleem is dat diagramme steeds net deur tekstuele beskrywings of tasbare diagramme toeganklik is, en dit is duur om dit te reproduseer. Tekstuele beskrywings is dikwels onvoldoende om die ingewikkelde verhoudings tussen onderdele van diagramme soos lyne en reghoeke of die kontoere op ’n geografiese kaart te beskryf,” sê Kruger.

“Wanneer vergelykings in ’n toeganklike formaat beskikbaar is, moet hulle liniêr gelees word, want dit is hoe wiskunde in huidige toeganklike formate uitgedruk word. Dit verhinder blinde lesers of persone met siggestremdhede om toegang tot die visuele uitleg van die vergelyking te kry.”

Volgens Kruger kan blinde of siggestremde lesers sy metodes gebruik om diagramme, geometriese vorms en vergelykings deur klanke en as gebare op ’n raakskerm of deur teksgebaseerde navigasie te verken.

“Die inhoud van diagramme word as ’n spesiale vorm van klank aan die leser gespeel, waarvandaan hulle die inhoud wat verken word, kan interpreteer. In die geval van ’n afwaartse lyn van bo links na onder regs op die skerm sal die gevolglike klank ’n klank wees wat afneem in toonhoogte,” verduidelik hy.

“Ek het twee bewegings uitgewerk wat blinde of siggestremde mense kan gebruik om inhoud op ’n raakskerm te verken. Wanneer een vinger oor die skerm getrek word, word die inhoud direk onder die vinger in ’n klank omgeskep. Wanneer twee vingers oor die skerm getrek word, tree die lyn tussen die twee vingers op as ’n skandeerder

Hy wys daarop dat die formaat van die vergelykings wat in sy navorsingstudie gebruik is, soortgelyk is aan ontoeganklik vergelykings wat lesers moontlik in gepubliseerde materiaal sal teëkom.

“My metodes stel blinde of siggestremde lesers in staat om regstreeks toegang tot grafiese materiaal te kry om vergelykings te lees en diagramme te verken deur net ? tablet te gebruik eerder as om vir duur hardeware of omskakelingsdienste te moet betaal.

“Hierdie metodes sal mense help om ’n idee te kry van ’n diagram se vorm, waar die vorm self belangrik is (soos byvoorbeeld ’n voorheen onbekende geometriese vorm) en om toegang te kry tot materiaal wat reeds gepubliseer is en geskep is sonder om toeganklikheidstandaarde in ag te neem.”

Kruger sê hy wil graag hê sy metodes moet in ’n boekleestoepassing ingebou word om lesers in staat te stel om diagramme en vergelykings in sulke boeke te bestudeer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article