Noel Petersen, distriksdirekteur van die Kaapse Wynland-onderwysdistrikskantoor.Foto: Enrico Claasen


Leerders se traak-my-nie-agtige-houding jeens onderrig, ’n gebrek aan ouerbetrokkenheid en oorvol klasse.

Dit is maar ’n paar van die uitdagings wat die nuutaangestelde distriksdirekteur van die Kaapse Wynland-onderwysdistrikskantoor, Noel Petersen (57), in die gesig staar.

Petersen, van Bridgetown op die Kaapse Vlakte, is einde verlede jaar in die pos van distriksdirekteur van die Kaapse Wynland-onderwysdistrikskantoor aangestel.

Benewens ’n BA-graad en ’n diploma in hoër onderwys wat hy aan die Universiteit van die Wes-Kaap verwerf het, het Petersen ook verskeie leierskaps- en bestuurskursusse voltooi.

Hy spog selfs met ’n diploma in menslike hulpbronbestuur wat hy deur Damelin Kollege verwerf het.

Petersen het sy onderwysloopbaan in 1990 by Cloetesville Senior Sekondêre Skool in Stellenbosch begin. Hy het vir 13 jaar in dié pos gedien.

Daarna is hy na Bellville-Suid Senior Sekondêre Skool en toe na The Settler’s High School.

Hy is hierna aangestel as departementshoof by Rhenish Primêre Skool in Stellenbosch en later was hy hoof by die Primêre Skool Rondebosch-Oos. Hier het hy tot einde 2018 gedien.

Petersen is daarna as kringbestuurder vir Metro-sentraal en later vir Metro-noord aangestel, voor hy sy huidige pos betree het.

Petersen sê sy nuwe werk behels om toesig te hou oor al die aktiwiteite van die distrik in die Kaapse Wynland in terme van onderwys, die fasilitering en implementering van al die departement se beleide, strategiese planne, instruksies, programme en projekte soos bepaal deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement.

Oor watter uitdagings skole in die gesig staar, sê hy dat sosio-ekonomiese faktore in gemeenskappe soos werkloosheid, bendebedrywighede en misdaad ’n negatiewe impak op onderrig by kwesbare skole in dié gemeenskappe het.

Hy sê die eindresultaat is ’n gebrek aan ’n leerkultuur onder leerders.

“Ons sukkel met skole in ons arm gebiede waar respek vir die onderwys nie op die vlak is waar dit veronderstel is om te wees nie.

“Leerders stel eenvoudig net nie daarin belang om hul omstandighede deur middel van onderrig te verbeter nie.”

Hy sê nog uitdagings is leerders wat stokkiesdraai, laat by die skool opdaag en dié wat onderwysers ’n moeilike tyd gee.

Petersen sê hoewel dwelmmisbruik in gemeenskappe hoogty vier, is daar maar baie min gevalle van dié aard op skole.

“Indien voorvalle van dwelmmisbruik by skole aangemeld word, gee sielkundiges, maatskaplike werkers en leierskap-ondersteuningstrukture onmiddellik daaraan aandag.”

Petersen sê skole word selfs toegerus met vaardighede oor hoe om dwelmverwante voorvalle te hanteer.

Werksessies oor kinderveiligheid, dwelmbewusmaking, boeliegedrag en tienerswangerskappe word ook gereeld by skole aangebied.

Volgens Petersen is ’n gebrek aan ouerbetrokkenheid, veral by kwesbare skole, een van hul grootste uitdagings.

“Daar is ’n groot gebrek aan ouerbetrokkenheid op ’n konstruktiewe manier. Soms is ouers se betrokkenheid vernietigend en in die proses belemmer hulle onderrig.

“Die feit dat hulle hul kinders bystaan – wetend die kind is verkeerd – is vir ons ’n probleem.”

Volgens Petersen word ook hard gewerk om die probleem van oorvol klasse en dissipline onder leerders te probeer oplos.

Met betrekking tot die besnoeiing van onderwysposte, sê hy: “Van die distrik se kant af probeer ons om so ver as moontlik te bemiddel om ons skole te help om hierdie werklikheid te hanteer.”

Petersen sê dit is voorts belangrik dat leerders elke dag van die skooljaar op skool moet wees.

“Ons wil verseker dat die skoolkwartaal nie eindig met ouers wat hul kinders by die huis hou of kinders wat verkies om by die huis te bly nie.

“Ons verstaan die dinamika van eksamens waar onderwysers nasienwerk moet doen, maar ons moet ’n balans vind om onderrigtyd te beskerm.

“Die kultuur van die kwartaal wat vroeg eindig en leerders wat nie skool toe gaan gedurende die laaste week van skool nie, moet regtig tot ’n einde kom.

“Ons het ons ouers se hulp nodig om te verseker dat hul kinders elke dag in die skool is vir die volle duur van ons skoolkwartale.”

Volgens Petersen is dit sy werk om seker te maak dat al hierdie uitdagings die hoof gebied word, asook om te verseker dat dinge skole bestendig is, beleide ingestel is en toegepas word en om ’n kultuur van onderrig en leer te kweek.

. Petersen wens alle matrieks namens die Wes-Kaapse onderwysdistrikskantoor en Wes-Kaapse onderwysdepartement sterkte toe met hul eindeksamen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article