Dié kranige rugby-afrigter berei tans die 7’s-span vir die Dowe-rugby-7’s-kampioenskap in Argentinië voor en sê
die span gaan nie net om deel te neem nie, maar om “te kompetéér”.
Volgens De Villiers het hy hierdie uitdaging met ope arms aanvaar en sê “soms moet jy besef in die lewe kry jy geleenthede sodat jy dit êrens kan terugploeg as koninkrykswerk”.
Volgens De Villiers is dit vir hom ’n voorreg om dié span af te rig, en weens die feit dat dit nie ’n voltydse posisie is nie, het hy steeds tyd om die inwoners van die Drakenstein-distrik as raadslid vir die GOOD- politieke party by te staan.
“Tydsbestuur is ’n belangrike deel van leierskap, en dit is iets wat ek deur my jare as ’n opvoeder, ’n sportdirekteur asook die Springbok-rugbyafrigter geleer het.”
De Villiers se grootste mikpunt sluit in om “waardes te kweek” by die spelers van die Springbokke se blinde 7’s-span en die spelers nie net rugby taktiek te leer nie, maar hulle ook te herinner dat hulle tot net soveel in staat is soos ander mense.
“Rugby is ’n spel vir almal. Jou fokus as afrigter is om die basiese beginsels aan die spelers oor te dra. Hulle is dalk gehoorgestremd, maar hulle kan kommunikeer, wat ook ’n noodsaaklike beginsel van die spel is,” verduidelik De Villiers.
Die Springbok- Blinde-7’s-span is tans aan die oefen in Pretoria vir die Dowe-rugby-7’s-ampioenskap saam met plaaslike afrigters. Die toernooi word van 5 tot 9 April in Suid-Amerika teen Argentinië, Australië, Kenia, Ghana, Nieu-Seeland, Engeland, Japan, asook die verdedigende kampioene, Wallis, gespeel.
Volgens De Villiers is dit tans ’n finansiële uitdaging vir die spelers om hulle ten volle voor te berei vir die kampioenskap, maar hulle doen wel “hul beste” met die beperkte tyd tot hul beskikking voordat hulle die avontuur in Suid-Amerika aanpak.

