Ná ’n lang gewag vir rugbygeesdriftiges in die Breedevallei was die spanning verby met ’n vriendskaplike wedstryd wat Saterdag (4 Februarie) op Esselenpark tussen Villagers- en Perseverance-rugbyklubs gespeel is.
Die Esselenparkstadion was reeds vroeg ’n miernes van bedrywighede toe mense na die veld begin stroom het om hul plek op die pawiljoen in te neem.
Persies wou sommer vroeg hul stempel op die wedstryd afdwing, maar het in die tweede minuut ’n strafskop misgeskop.
Villas, aan die ander kant, het vinnig hul voete gevind en hul nuwe aanwins en losskakel, Shane Pietersen, het deurgebreek en sy span se eerste punte aangeteken. Girshwin Faroa se skopskoen het die telling tot 7-0 laat styg.
Persies het toe met verskeie aanslae begin en Villas se verdediging moes behoorlik bontstaan om al die gate toe te stop.
Villas het wel weer ’n sewepunter gekry toe die flank Abraham Sebenzi oorgegaan en die plaasvervanger-losskakel, Melvin Julies, verdoel het.
Die rustydtelling was dus 14-0.
Ná rustyd en met die afrigterskorpse van beide spanne wat nou mildelik gebruik gemaak het van hul spelers op die plaasvervangersbank, het Persies behoorlik tot sy reg gekom.
Villas het nie bes gegee nie en die bal lug gegee. Een so beweging het in punte vir Persies geëindig toe ’n bal wat losgespat het deur die regtervleuel Phillip Basson deurgeskop is vir ’n drie.
Kort hierna is Persies nog ’n onvervyfde drie toegestaan toe die plaasvervanger-vleuel Endellon Willams ná ’n volle agterlyn-beweging in die hoek oorgeduik het.
Persies se Julian Pamperton het ook ná ’n omgekeerde balbesit oorgegaan en Jacquin Jacobs het verdoel.
Villas het weer punte aangeteken toe Pietersen ná volgehoue druk oorgegaan het, wat ongelukkig nie verdoel is nie.
Persies het egter weer na vore gekom toe Willams sy tweede drie gedruk het.
Met die uurglas wat begin leegloop, het ’n bal weer losgespat en is dié keer deur die plaasvervanger-linkervleuel, Christian Apollis, in ’n drie omgeskep, en met Jacobs se geslaagde doelskop het Persies met ’n welverdiende oorwinning van 29-19 van die veld gestap.


