Die wenspan van Pen United, wat die loot gewen en besluit het om eerste te kolf.Foto: Verskaf


Spanne van die Robertson-sagtebal-krieketunie het die afgelope naweek weer met aksiebelaaide sagtebal-krieket vorendag gekom.

Indians t Royals:

In die tweede wedstryd het bogenoemde spanne kragte met Royals gemeet, wat die loot gewen en eerste gekolf het. Royals se kolwers Devino Davids (28), Chad Januarie (22) en Duwayne Brown (16) het dit moeilik gemaak vir Indians en hulle uitgeboul vir 96 lopies. Teshwill September (4/4), Ismael Jones (3/27) en Ferdie Johann (2/23) was Indians se beste boulers.

Indians kon net nie aan die gang kom nie met Jontas Molefe (14), Melvin Smith (12) en Jonnaes Conradie (12) wat tevergeefs met die kolf probeer het. Shane Abrahams (4/22) ,Faygen Muller (3/12) en Chad Januarie (2/17) was die manne wat vir Royals verwoesting met die bal gesaai het. Royals het die wedstryd met 18 lopies gewen.

Pen United t Die Stoep:

Soos die dag begin het, het die dag geëindig met ’n “Panorama- derby” waar die spanne van Die Stoep (huidige kompetisiewenner) en Pen United kragte gemeet het. Pen United se kaptein, Austin Stevens, wat ook voorheen vir Die Stoep gespeel het, het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Pen United se beurt het bestendig begin met die openingskolwers Danico Philmon (19) en Roland Evertson (13) wat ’n goeie fondasie gelê het, waarna die paaltjies gereeld geval het, maar Duran Booysen (41*) was koelkop met ’n goeie beurt en Pen United het 102/9 in sy 20 boulbeurte aangeteken.

Die Stoep kon in sy beurt net nie aan die gang kom nie. Peter John van Niekerk (17), Mashid Jagers (10) en Inzamam Matthys (10) was die manne wat probeer veg het met die kolf, maar die span is almal uitgeboul vir 71 lopies. Masiano Koert (3/7), Austin Stevens (2/8) en Jupeter Hopp (2/18) het vir Pen United met die bal uitgestaan.

Pen United het die wedstryd met 32 lopies gewen.

Wedstrydbepalings vir 17 Maart:

1. Môreson United Knights t Indians – 9:00; 2. Royals t Superstars – 12:00; 3. Tornados t Dorpsig Barbarians – 15:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article