Die afgelope Saterdag (28 Januarie) het Rawsonville Distrikte Sokkerassosiasie (Rodsa) sy jaarlikse voorseisoentoernooi gehou met die Peacemakers en Rangers United wat mekaar in die eindronde die stryd aangesê het.
Die Peacemakers-sokkerklub was van die begin van die wedstryd meer doelgerig in sy spel en het die eerste 20 minute oorheers.
Rangers, wat ’n nuweling tot die Rodsa-sokkerunie is, het meer verdedigend gespeel en Peacemakers het gesukkel om deur hierdie verdedigingstaktiek te werk, maar het met goeie strategiese spel die telling na 1-0 in die Peacemakers se guns laat kantel.
Rangers het hierna geherorganiseer, maar kon net nie die rotsvaste verdediging van Peacemakers laat verbrokkel nie.
Arnoldus Visagie het geslaag met ’n tweede doel, asook Elfriedo Onckers met ’n derde doel, wat die telling teen halftyd 3-0 gemaak het.
Ná rustyd het Rangers met nuwe vuur vir Cedric Armoed, Peacemakers se doelwagter, besig gehou.
Armoed was immers voorbereid, en het nie een doelpoging laat deurglip nie.
Teen die einde van die wedstryd het die Rangers wel een doel aangeteken.
Jobie van der Westhuizen het met ’n geweldige spoed die Rangers se verdediging onkant betrap en met ’n tweekuns geslaag.
Van daar af teken hy ook ’n verdere doel aan, wat die eindtelling na 5-1 in Peacemakers se guns gebring het.
Van der Westhuizen is ook as speler van die wedstryd aangewys.


