‘Ek wou nooit oorslaap nie’ – amper-slagoffer van pastoorpaar

Valerie Wolfaardt het hierdie foto van haar en Derek in 2013 op een van haar vele Facebook-rekeninge gepos en verduidelik dat die egpaar op hierdie dag hul 27ste huweliksherdenking gevier het. Foto:

Credit: SYSTEM

“Ek is dankbaar hy is in hegtenis geneem,” sê ‘n familielid van een van die slagoffers van die pastoor wat die afgelope week, net soos sy pastoorsvrou, in hegtenis geneem is vir seksdade met kinders.

Derek Wolfaardt is ook uiteindelik Maandag 25 Julie in hegtenis geneem nadat sy vrou, Valerie, vroeër die maand in hegtenis geneem is.

Valerie staan tereg op aanklagte dat sy onder meer selfoonfoto’s van die slagoffers se privaat dele geneem het. In die polisie se amptelike verklaring, wat vroeër die maand uitgereik is, word verduidelik dat ’n ander slagoffer, wat gereeld by die egpaar oorgeslaap het, pille ingegee is om haar te laat slaap.

“Wanneer sy opgestaan het, is sy heeltemal ontklee en daar is foto’s van haar geneem sonder haar toestemming,” lui die verklaring.

Die klagtes teen Derek is nog nie bekend gemaak nie.

“Dit is weer eens ’n bewys God slaap nie,” het die familielid, wat verkies om anoniem te bly, gesê. Sy het ook emosioneel verduidelik hulle is in dié stadium nie gereed om die situasie in verdere detail te bespreek nie.

“Dit is nog te rou om daaroor te praat,” het sy aan Standard verduidelik.

’n Ander betroubare bron, wat ook op voorwaarde van anonimiteit met Standard gepraat het, het gesê die gemeente was bewus daarvan dat die egpaar voorheen in die tronk was.

“Gerugte is dat hulle vir die gemeente gesê het hulle is valslik van versekeringsbedrog beskuldig. Sy het ook gereeld by elke diens gesit en huil en ek het altyd gewonder wat die vrou se stryd was.”

Standard het ook met iemand gepraat wat jare gelede ’n goeie vriendskaplike verhouding met die egpaar gehad het.

Maar die vrou het altyd vir my gesê hulle wil my graag help, maar dat ek alleen na hulle toe moet gaan en dat ek daar moet slaap. Sy het op meer as een geleentheid dit vir my gesê. Maar dit het my altyd ongemaklik laat voel.

“Toe ek jonger was, in my vroeë twintig, was ek ’n dwelmverslaafde. Ek dink my ma het my destyds na hulle geneem vir berading. Maar die vrou het altyd vir my gesê hulle wil my graag help, maar dat ek alleen na hulle toe moet gaan en dat ek daar moet slaap. Sy het op meer as een geleentheid dit vir my gesê. Maar dit het my altyd ongemaklik laat voel. Daar was net iets omtrent haar stemtoon wanneer sy hierdie goed gesê het wat my afgesit het,” verduidelik die vrou.

Sy het ook gesê dit was vir haar ’n slapelose nag toe sy uitvind dat die vrouepastoor in hegtenis geneem is en dat hulle al vantevore vir seksuele misdrywe met kinders gevonnis is.

“Dit was ’n massiewe skok vir my – ek kon glad nie die aand slaap nie. Dit het my net laat terugdink aan al die kere wat sy my genooi het om daar te slaap omdat hulle my kwansuis wou help. Wat was hul doel nou eintlik?” vra sy.

Valerie en Derek is in 2000 tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die verkragting van drie minderjariges oor ’n tydperk, waarvan een van die slagoffers van Derek swanger geraak het.

Hulle het destyds die slagoffers gelok deurdat die vrouepastoor vir hulle vertel het dat sy en haar man sukkel om kinders te kry. Sy het dan vir hulle gesê die medici het voorgestel haar man moet met jonger vroue slaap. En omdat die slagoffers wou help, het hulle ingestem. Sy sou dan die kamer verlaat waarna hy die kamer sou binnegaan en homself ontklee en geslagsgemeenskap met die kinders sou hê. Twee van die slagoffers was Valerie se twee jonger susters. Volgens betroubare inligting deur Standard verkry het die egpaar ’n deel van hul vonnis in die plaaslike tronk uitgedien. Dis daar dat hulle by die bediening aangesluit het. Hulle is vroeër op parool vrygelaat, wat volgens inligting meer as twaalf jaar gelede was.

Valerie Wolfaardt se borgtogaansoek is na 26 Julie uitgestel nadat haar prokureur hom die week vantevore aan die saak onttrek het. Sy het aangedui sy sou ’n nuwe prokureur aanstel en sou voorbereid wees vir 26 Julie. Nadat haar man egter Maandag in hegtenis geneem is, sou hy saam met haar die volgende dag vir die borgtogaansoek in die hof verskyn.

Die saak is egter nou tot Donderdag 4 Augustus vir albei se formele borgtogaansoek uitgestel. Die egpaar bly tot dan in aanhouding.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article